
Hallo en baie welkom! Ek groet jou in die kosbare Naam van Jesus Christus, die Naam bo alle name.Ek hoop soos jy hierdie blog besoek, dat Heilige Gees jou meer en meer sal vernuwe en verander om aan Jesus se beeld gelykvormig te word. Ek hoop ook dat jy sommer persoonlike ontmoetings met God hier sal beleef en sodoende baie plesier en vreugde sal beleef (Ps 16:11).
Ek het hierdie blog opgestel sodat jy alles sal word wat God jou geskape het om te wees en dat jy die doel met jou lewe volkome sal bereik en uitleef tot eer van ons Vader se Naam en glorie!
Ons almal het al swaarkry in ons lewens beleef maar Vader kan en wil dit genees en ten goede mee werk (Rom 8:28). Lees hier onder my storie.
My Storie
My storie is een van kop hou en konsentreer anders mag al die intriges jou net dalkies deur mekaar maak! Maar is dit tog nie lekker om te weet hoe Vader God mens se komplekse stories kan omdraai in iets moois en bruikbaar!
Dit is hoe myne verloop het. My ma was eers getroud met my pa se broer waartydens my twee broers gebore is. My oom (half broers se pa) is op ‘n vroeë ouderdom oorlede. My pa het hom toe so oor sy skoonsus ontverm en hulle is ‘n paar jaar later getroud en ek is gebore!
Toe ek drie jaar oud was, is ek en my ma in ‘n motorongeluk gewees. My ma is op slag oorlede en ek het my been en ribbes gebreek.
My ouma het by ons kom bly. Dit was werklik ‘n seëning van bo want sy was’n engel uit die hemel wat kom brood nodige liefde, versorging en omgee kom gee het.
Tydens daardie tyd het die vyand verder sy kans gevat en ‘n familielid het my gemolisteer. Dit het vir my soveel skaamte en minderwaardigheid veroorsaak.
Finsieel het dit ook nie goed met ons gegaan nie maar daar was darem altyd kos op die tafel. Dit het net verdere minderwaardigheid veroorsaak!
Na skool het my oupa vir my betaal om te gaan swot.
Teen die einde van my tweede jaar op universiteit is my oudste broer, sy vrou en 3 maande oue baba dogtertjie in ‘n motorongeluk oorlede. Dit was vir my so ‘n groot skok en ondekbaar dat dit weer met ons as ‘n gesin kon gebeur het. Ek was bitter kwaad ek het God deur die ervaring helemal verkeerd opgesom. Eers jare later het ek besef dit is nie Sy wil dat mense so moet sterf nie maar dat Hy deur alles daar is vir ons, om ons te vertroos en te herstel.
Na my swottings het ek as dosent begin werk in politieke wetenskappe. Ek het niks van die politieke deel gehou nie maar vinnig daaruit geleer dat om mense te leer ‘n groot passie vir my is.
Gedurende die tyd het ek by ‘n christelike berader uit gekom en vir die eerste keer in my lewe my storie vertel. Ek het soveel genesing en herstel deur hierdie proses ontvang waartydens die Here nie net my verlede met al sy seer en gebrokenheid kom genees het nie maar ook my identeit kom herstel het en my roeping aan my kom openbaar het. Sederdien het daar al soveel verdieping in my plaasgeving en het Vader ook Sy liefde en teenwoordigheid aan my kom bekend maak en lewendig gemaak.
Tydens my laaste beradingsessie het ek besef dat ek vir die res van my lewe wil toewy om genesing en veral innerlike genesing, vir mense te wil bring. En so het die Here vir my die een deur na die ander een oop gemaak.
Vandag is ek al vir 16 jaar ‘n berader. Ek het al soveel keer beleef hoe God kom en stukkende lewens herstel en opbou asof die verwoestende verlede nie eers gebeur het nie. Ek is in so bevooregde posisie dat God my verlede kan gebruik om meelewendheid en empatie te kan hê met stukkende mense en om ‘n instument te wees waardeer Hy lewens kan herstel.
Vader het werklik vir my twee keer meer kom terug gee as wat gesteel is in my verlede. Vandag is ek getroud met ‘n ongelooflike passievolle, energieke en staatmaker man en het ek twee pragtige dogterjies waarvoor ek mamma kan wees.
Vader het werklik vir my “beauty instead of ashes” kom gee, “joy instead of morning” (Jes 61:3). Elke keer wat die Here my gebruik vir genesing voel dit vir my asof die vyand terug gekry word vir sy diefstal (Joh 10:10) in my lewe.
Die beste is dat ek God, Jesus en Heilige Gees so werklik kan ervaar, Sy liefde vir my kan voel, ek met Hom kan gesels, Hom kan hoor en dat Hy elke leemte wat ek gedink het daar is in my lewe kom vervul het en beter as enige iets anders versadig.
Vadag wil ek jou bemoedig dat maak nie saak waardeer jy tans of in die verlede gegaan het nie, jou roeping en God se plan vir jou lewe staan vas. Sy plan vir jou is voorspoed en nie teëspoed nie (Jes 29:11), Hy het gekom sodat jy die lewe kan hê en dit in oorvloed (Joh 10:10). God kan en sal elke situasie in jou lewe omdraai as jy Hom toe laat en Hy sal dit gebruik sodat jy Sy liefde vir jou as ‘n werkliheid kan ervaar en jy kan besef wat jou roeping is. Jy is nie per toeval hier nie! God het jou geskape met ‘n doel en plan en deel daarvan is om intimiteit met Hom te beleef en die ander deel is om ‘n verskil te maak in mense se lewens.
Hoe kan God jou seer ten goede mee werk geliefde (Rom 8:28)? Hoe kan Hy jou seer gebruik om ander aan te raak?
