Hom persoonlik moet ken!
God is persoonlik en wil ‘n persoonlike en intieme verhouding met elkeen van ons hê. Persoonlik of intiem ken beteken dat die persoon waarlik opdaag, deel neem aan jou, baie naby is in vriendskap, om ‘n diep kennis te hê van jou, om self bekend te maak, ‘n aksie soos om te soen. Dit is om jou self deursigtig te maak voor ‘n ander en om self ‘n ander se diepste gevoelens, drome, wense, optredes en gedagtes te ken.
Ons kan sien dat reg in die begin in Eksodus 25:8 – 27:38 het God aan die volk opdrag gegee om ‘n tent van ontmoeting te maak sodat die volk na Hom toe kan kom, voorskrifte vir beskerming kan ontvang en om God te ontmoet. God was dus nog altyd persoonlik en intiem en het nog van die begin af ‘n behoefte om persoonlik geken te word en intiem met ons te verkeer. God het ons, die mens geskape om ‘n persoonlike verhouding met ons te hê.
Lees Heb 9:1-12 en Mat 27: 50-51
Ons moet wel in ag neem dat God ook ander eienskappe het soos Regverdig, Heilig, Almalgtig ens. En ons mag nie een karakter eienskap belangriker ag as die ander nie want dan neem ons weg van God se karakter en kan ons Hom nie ten volle ken nie. God is Heilig en haat die sonde want Hy weet dit verwoes Sy mense (Hy haat nie die sondaar nie). Daarom kon slegs die hoëpriester in die Allerheiligste in gaan nadat bloed gesprinkel is om vir sy eie en die volk se sondes te betaal.
Dus, dit was ‘n groot storie om in God se teenwoordigheid te kom, baie rituele moes plaasvind en baie werke moes gedoen word. Maar Jesus het as Hoëpriester vir ons gekom en finaal die sondelas betaal deur Sy bloed. Toe Jesus sterwe aan die kruis het die voorhangsel tussen die Heiligste en Allerheiligste verskeur (Mat 27:51) sodat almal van ons met vrymoedigheid na God se genadetroon kan kom en intiem met Hom wees, sodat ons in Sy teenwoordigheid kan wees (Heb 10:19).
God is ook alomteenwoordig en kan elke oomblik intiem by elkeen van ons wees. Deur God se Gees is ons nie as weeskinders agter gelaat nie (Joh 14:18).
Hoekom ken ons nie God intiem nie?
Maar baie van ons besef nie wat dit is om intiem geken te word nie. Ons weet nie hoe dit werklik is om ander intiem te ken nie. Miskien sit jy ook nou hier en besef dat niemand in jou lewe jou werklik persoonlik ken nie: dat jou man, jou ouers, vriende of familie nie werklik bemoeienis maak om die innerlike diepte van jou te ken nie, jou wese, emosies en behoeftes te verstaan nie. Miskien was jou ouers nie baie betrokke in jou lewe en het nie werklik persoonlike aandag aan jou gegee nie. Daarom is dit ook vir ons moeilik om te verstaan dat God ons intiem wil ken. Dit maak ons selfs bang as ons daaraan dink.
Ons voel ook dat ons eers perfek moet wees voordat ons na God kan gaan. Ons dink ons is te vuil en vol sonde om voor God te verskyn en ons is bang dat Hy ons gaan veroordeel. Maar God wil reeds hê dat ons net soos ons is, met al ons sondes, vuilheid en seer voor Hom moet verskyn want ons kan nie ons self verander nie en dit is net in Sy teenwoordigheid en wanneer ons met Hom tyd spandeer (net soos ons is) dat God ons kan genees en verander. Wanneer ons ‘n ontmoeting het met God word ons verander soos Paulus op die Damaskus pad en ook al die ander gelowiges in die Bybel.
Baie keer doen ons ook soos die priesters eerder net al die werke in die Heiligste eerder as om in die Allerheiligste in te kom omdat ons bang is. Ons dink ons werke sal opmaak by God en ons aanvaarbaar maak vir Hom. Maar Hosea 6:6 sê: “Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers.”
Kennis is nie genoeg nie:
As ek van ‘n huis hou en ek begin die bou van die huis en die argitektuur van die huis te bestudeer kan ek al die kennis op doen van die gebou en die argitek – waarvan hy hou en nie hou nie maar dit beteken nie dat ek die argitek persoonlik ken nie. Daar is ‘n verskil tussen om van iemand te weet en om hom/haar werklik persoonlik te ken. Ken jy God persoonlik of het jy slegs kennis van Hom?
Om God intiem en persoonlik te ken moet ons heel eerste Jesus Christus aanneem as ons Verlosser en alleen op Hom vertrou vir ons redding. Ons moet nie alleenlik net glo in Jesus Christus nie. Die demone glo ook en hulle sidder van angs (Jak 2:19). Dus moet ons ook ‘n verbintenis, ‘n verhouding met Jesus Christus die Seun van God het en Hom aanneem as ons Verlosser en Saligmaker (Joh 4:24).
Tweedens moet ons gevul wees met die Heilige Gees (1 Kor 2:10). Dit is nie moontlik om intiem en persoonlik met God te wees deur ons menslike kennis nie. Ons menslike verstand kan dit nie begryp nie en sal ons verhoed om persoonlik met God te wees. Ons moet dus daagliks vir die Heilige Gees vra om ons vol te maak en te lei.
Derdens moet ons ‘n behoefte en begeerte hê om God intiem te ken (Jer 29:13) en gereeld dit vir God vra in gebed.
Die volgende kan ‘n paar moontlike vrugte wees van ‘n persoon wat nie glo dat God met hom/haar persoonlik en intiem wil wees:
· Gevoel van eensaamheid
· Voel dat jy self moet veg om iewers in die lewe te kom
· Voel dat jy alleen die verantwoordelikheid dra vir die pligte en uitdagings in jou lewe
· Bang om tot God te nader
· Stiltetyd dood of groei vind nie plaas
· Beleef nie sommer God se teenwoordigheid nie
· Beleef nie God se liefde
· Glo nie God wil met jou praat of sukkel om Sy stem te hoor
· Sukkel om persoonlik en intiem met ander mense te wees
My vraag aan jou vandag is: ken jy God werklik intiem of kom jy net na Hom uit plig of omdat jy iets nodig het? Het jy ‘n behoefte om God intiem te ken, persoonlik met Hom te wees, Sy stem te hoor en Sy vriend te wees soos Moses Sy vriend was. Deut 23:29 verklaar dat: “ if you will seek (inquire for and require as necessity) the Lord your God, you will find Him if you (truly) seek Him with all your heart (and mind) and soul and life.
Jesus liefde: Jonanda Burger