DIE VADER HART VAN GOD

Voor ons begin andwoord die volgende vrae opreg en eerlik:
Moenie net die regte andwoord gee nie, andwoord uit jou hart uit want as jy voorgee kan God nie jou situasie verander nie:
1. Ervaar jy God se liefde vir jou?
2. Glo jy dat Hy jou persoonlik lief het?
3. Voel jy dat Hy jou so lief het soos die persoon wat lanks jou sit?
4. Is God se liefde vir jou werklik, lewendig?
5. Voel jy asof God persoonlik in jou lewe betrokke is?

“The deepest search in life, it seemed to me, the thing that in one way or another was central to all living was man’s search to find a father, not merely the father of his flesh, not merely the lost father of his youth, but the image of strength and wisdom external to his need and superior to his hunger, to which the belief and power of his own life could be united.” Thomas Wolfe

God het jou geskape om Sy liefde te kan beleef:
God is nie ver en afsydig nie maar is liefdevol, goedhartig en saggeaard. Die Bybel sê dat God ware liefde is en dat Hy hierdie liefde op jou wil uitstort (Rom 5:5). Jesus sê ook dat God ons net so lief het as wat Hy Hom (Jesus) lief het (Joh 17:23). God soek nie nog diensknegte om by Sy Koninkryk by te voeg nie maar meer kinders om Sy huis vol te maak. God verlang daarna om in ‘n ware, lewendige en liefdevolle verhouding met jou te wees.

Ervaar jy God se liefde vir jou?
Ek kan onthou toe ek nog op hoërskool was en gehoor het dat ‘n oulike seun in die skool van my hou. Ek kan die skoenlappers in my maag onthou, die opgewondenheid en lekker kry, ‘n rede om skool toe te gaan. Ek onthou toe ek my man ontmoed het, die opgewondenheid, die vreugde, die flinkering in my oë, die absolute genot, die lewe wat sin maak. Dan onthou ek ook toe my vriendin getrou het en hoe sy absoluut floreer het deur haar man se liefde, sy het gestraal, vir my werklik net mooier en mooier geraak.

Dis wanneer ek liefde in wording ervaar dat ek besef hoe kragtig dit is en hoekom God ons beveel om mekaar lief te hê. Maar terselfde tyd moet ek myself afvra “beleef ek God se liefde vir my ook so? Maak dit my ook so opgewonde? Gee dit my ook soveel vreugde? Vul dit my? Is dit vir my genoeg?” Vir baie lank in my lewe was dit nie so nie en as ek rondom my kyk is dit ook nie moeilik om te sien dat God se liefde ook nie ervaar word in my medegelowiges se lewe nie.

Hoekom beleef ons nie God se liefde soos ons moet nie?
Wanneer ek dan vra hoekom ons nie God se liefde so beleef nie kry ek telkemale dieselfde andwoord van God:
• ons het ‘n verkeerde beeld van wie God is (ons glo leuens van Hom),
• ons weet nie hoe waardevol ons vir God is nie (ons glo leuens oor onsself), en
• ons kies nie om bewus te word van God se liefde nie.

Oor die eeue heen is daar wanopvattings oor God en Sy ware karakter aan mense geleer. God is verkeerd aan jou voorgestel deur wettiese geloofsleiers asook ons eie vaders en outoriteitsfigure (Joh 8:41-44). Kenners reken dat die manier hoe ‘n mens sy/haar eie ouers asook outoriteits figure beleef beinvloed hoe hy/sy God beleef. Dus as gevolg van mense se foute beleef ons God op ‘n verkeerde manier en nie ten volle nie.

Tweedens, as gevolg van gebeure in jou eie lewe sukkel jy dalk om jou eie waarde te besef. Mense, gebeure en omstandighede het jou dalk laat glo dat jy nie kosbaar is nie, dat jy in die pad is, dat jy ‘n mislukking is ….. Dit veroorsaak dat jy glo dat God ook so oor jou voel.

Derdens, God se liefde is altyd om jou, in jou, by jou en oor jou. Dit is persoonlik en intiem vir jou. Niks kan jou van God se liefde skei nie (Rom 8:38-39). Maar as jy nie kies om bewus daarvan te word nie sal jy ook nie God se liefde vir jou beleef nie. Dit is soos ‘n kragprop, die krag is in die prop maar as ek net vir dit gaan kyk gaan dit nie lyk asof dit werklik krag het nie. As ek egter dan die geloof neem en ‘n kragprop daarin druk en aanskakel sal ek sien dat groot en wonderlike dinge kan gebeur, dat voorwerpe lewend word. Jy moet kies om bewus te word van God se liefde, daarin ‘tune’ en dan toelaat dat God ook wonderlike dinge sal laat gebeur. Die enigste ding wat jou van God se liefde kan skei is jyself deur jou eie gedagtes en wat jy kies om te glo.

Verstaan jou behoefte aan liefde:
God het ons geskape in liefde en vir liefde. Daarom het ons elkeen ook ‘n groot behoefte om liefde te ervaar asook om aanvaar te word. Ons elkeen het ‘n liefdestenk binne in ons wat vol gemaak moet word. Dit is wetenskaplik bewys dat babas wat nie fisiese aanraaking in die eerste paar maande van hul lewe ervaar, kan fisies en emosioneel beinvloed word vir die res van hul lewens.

‘n Liefdesleemte?
Omdat die mense in ons lewens ook maar net mens is (veral ons ouers) en as gevolg van omstandighede buite ons beheer (soos dood van een of albei ouers) word meeste van ons groot met ‘n liefdesleemte binne in ons. Dus ons het nooit die liefde ervaar wat ons moet nie. Hierdie leemte kan dan net deur God vervul word.

Meeste van ons probeer om die leemte met ander dinge te vul soos verhoudings, prestasies, kos, drank ens. Die waarheid is dat as ons nie die liefde van God ervaar nie sal ons altyd met ‘n leë gevoel sit en onvervuld wees.

Hoe kan jy God se werklike liefde vir jou ervaar?
1. Sê vir God dit is jou hartsbegeerte om Sy liefde vir jou te ervaar. Geen wêreldse ding kan die leemte in jou hart vul nie net Hy kan.
2. Vra God om sy liefde in jou hart uit te stort deur Sy Heilige Gees (Rom 5:5). Die Heilige Gees is ons Leeraar en sal God se liefde elke keer aan ons openbaar as ons Hom vra. Doen dit elke keer as jy die leemte binne in jou besef.
3. Sê vir jouself in jou gedagtes en hardop “God is lief vir my.” Sê dit oor en oor, soveel as wat jy kan en laat dit in sink. Sê dit veral wanneer jy voel dat God jou nie lief het nie. Hoe meer jy dit hoor hoe meer sal jy dit glo.
4. Leer die skrif in die Bybel wat God se liefde vir jou verklaar en sê dit vir jouself elke keer waanner jy voel asof God jou nie lief het nie.
5. Hou ‘n dagboek oor al die spesiale dinge wat God vir jou doen.
6. Vra God om jou gedagtes te vernuwe oor wie Hy werklik is en hoe waardevol jy is vir Hom.
7. Kies om te glo God het ons lief al voel ons nie so nie.

Wat sal gebeur as jy God se werklike liefde vir jou beleef:
Soos jy meer en meer God se liefde vir jou ervaar sal jy:
• al hoe meer vir God lief hê
• al hoe meer ander lief hê
• meer en meer vreugde begin beleef
• vol en vervuld voel
• meer en meer verander word en leef soos Jesus
• jou waarde besef en ook so begin lewe
• sal aanvaar voel en voel asof jy behoort
• jou skeppingsdoel besef en dit uitleef

Skrif om oor na te dink:
Joh 17:23: “Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.”
Ps 139:17-18: “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.”
Jes 49:16: “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer,”
Jer 1:5: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.”
Rom 5:5: “en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”
Rom 5:8; “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
Rom 8:38-39: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

ONVOORWAARDELIKE LIEFDE

Wat is dit?
Onvoorwaardelike liefde is die liefde wat gemaak het dat God Sy Seun vir ons aan die kruis laat sterf het vir ons sondes. Dink gou hieraan: op hierdie huidige oomblik is daar niks wat jy kan doen wat kan maak dat God jou liewer sal hê nie en niks lelik wat jy kan doen wat kan maak dat Hy jou minder lief sal hê nie. Onvoorwaardelike liefde is die liefde wat God vir ons het en dit beteken dat Hy ons lief het net soos ons is, met al ons foute. Onvoorwaardelike liefde gaan eintlik oor God se karakter, Hy gee hierdie liefde vir ons oor wie Hy is en nie oor wie ons is of wat ons doen nie.

God verwag dat ons ook hierdie onvoorwaardelike liefde moet uitleef teenoor ons medemens en veral in ons huwelik teenoor ons eggenoot.

Hoe lyk onvoorwaardelike liefde in my huwelik?
Onvoorwaardelike liefde is ‘n keuse en nie ‘n gevoel nie. Dit is ‘n besluit wat jy maak om iemand lief te hê ten spyte van van wie of wat hul is, hoe hul optree teenoor ons of wat hul doen (of nie doen nie). Die fokus van onvoorwaardelike liefde is om die behoeftes van die ander persoon te bevredig. Dit is die grootste geskenk wat jy jou maat kan gee. Dit is nie gebasseer op hul optrede nie maar op jou begeerte om hom/haar lief te hê soos Christus jou lief het. Met ander woorde sonder enige voorwaardes.

Hoekom onvoorwaardelike lief hê?
God verwag onvoorwaardelike liefde van ons. Sy wette/opdragte is nie beperkend nie maar beskermend. Dit is soos ‘n pa wat vir sy dogter sê om 23:00 by die huis te wees na die fliek. Hy sê dit nie om haar te beperk nie maar te beskerm. Net so sê God vir ons om sekere dinge te doen en ander nie omdat Hy ons ook wil beskerm en Hy weet wat se voordeel daarin is vir ons.

Onvoorwaardelike liefde gee heel eerste vir mense ‘n veilige plek om te kan verander. In plaas daarvan om druk op iemand te plaas om te verander, sê onvoorwaardelike liefde “ek het jou lief” of jy nou verander of nie. Wanneer mense dié veiligheid beleef kan en sal verandering outomaties geskied. Maar wanneer iemand forseer word om te verander kan so ‘n persoon opstandig raak en rebelleer teen enige verandering. Die persoon kan ook vrees ervaar wat verandering bemoeilik.

Onvoorwaardelike liefde gee aanvaarding vir mekaar. Iets wat ons so nodig het in die wêreld. ‘n Plek waar mens mens self kan ontdek en sodoende ook kan groei en ontwikkel tot dit wat God wil hê ons moet wees.

Onvoorwaardelike liefde kan ons huwelike red. Dit vernietig die 50/50 persent beginsel van die wêreld en laat ons toe om ons alles, ons beste, ons 100% vir ons maats te gee tot eer van God.

Hoe kry ek dit reg?
Maak ‘n keuse en toevertrouing om jou eggenoot onvoorwaardelik lief te hê. Alles begin met ‘n keuse.

Dit is belangrik dat ons God se onvoorwaardelike liefde vir onsself ervaar en begryp. Daarom moet ons vir God vra om deur Sy Heilige Gees hierdie liefde aan ons te openbaar. Wanneer ons die aanvaarding en liefde beleef gaan dit vir ons baie moeilk wees om dit nie ook met ander te deel nie.

Ons moet God vra om ons te help om vir ander lief te wees soos Hy ons lief het. Die Woord sê dat wanneer ons volgens God se wil iets vra sal God dit vir ons gee. Dit is Sy wil dat ons vir ander onvoorwaardelik lief moet wees! Dan moet ons God vra om ons te vervul met Sy Heilige Gees sodat ons Sy wil sal volg en nie ons eie sondige natuur nie.

Dit is ook baie belangrik om tyd te spandeer in God se Woord en Sy teenwoordigheid. Hoe meer tyd ons met God spandeer hoe meer sien ons wie Hy werklik is en Hoe meer kan ons verander word om aan Sy Seun gelykvormig te word. Hoe meer ons die Bybel lees hoe meer sal ons geloof kry en hoe meer sal die mense in ons lewe onvoorwaardelik lief kan hê.

Ek moedig jou aan om jou beste lewe nou te leef en jou eggenoot uit sy/haar sokkies uit lief te hê. Onthou niemand is perfek en as ons gaan wag dat mense foutloos moet wees voordat ons lief gaan wees vir hulle, sal ons nooit niemand lief hê nie.

Skrif om oor na te dink:
2Kor 3:18 Ons almal weerspieel die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesigte af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat uit ons uitstraal neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.
2Kor 5:17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe mens; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
Rom 6:11 So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.
Rom 10:17 Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.
Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gedagtes, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Eph 1:17 dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee,
Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.