Deur Jonanda Burger
Bid jy en jou man/vrou ooit saam? Praat julle ooit oor God, Sy Woord en beloftes? Ek is van mening dat daar geen belangriker aksie is wat ‘n man en vrou kan saam doen as om te bid nie. Hoor wat verklaar Mat 18: 19-20: "Vêrder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle."
Besef jy dat dit God se hartsbegeerte is dat jy ‘n vreugdevolle, vervullend en suksesvolle huwelik moet hê? Die huwelik is God se instelling en wanneer dit goed gaan met ons huwelike word God se Naam verheerlik. Dit is egter onmoontlik om ‘n suksesvolle, vredevolle en liefdevolle huwelik te hê sonder die hulp van God (Joh 15:15). Maar wanneer ons ons huwelike totaal oorgee aan God, erken dat ons dit nie deur ons eie menslike krag kan maak werk soos dit moet nie en God dan in nooi in ons huwelike deur gebed, gebeur die wonderlike en onmoontlike. Dit is wanneer ons saam bid oor elke ander afdeling van ons lewe dat daardie afdelings begin werk soos God wil hê dat dit moet. God verklaar immers dat ons nie het nie want ons vra nie.
Indien jy nog nie oortuig is van die krag van gebed in die huwelik nie kan jy gerus die volgende paar argumente oorweeg. Saam bid:
Verander lewens:
Nadat ek en my man so paar jaar gelede gereeld argumente gehad het waarvoor ons geen oplossings of antwoorde kon kry nie en gevoel het ons baklei konstant oor die selfde sake, het die Heilige Gees ons gelei om te begin bid oor hierdie sake en dit oor te gee in God se hande vir oplossing. Die uitkoms was bevrydend! Ek hou daarvan om ‘n plan van aksie te hê oor hoe ons dinge gaan op los. Voorheen het ons geen antwoorde gehad het nie maar nou was ons antwoord God en om op Hom te wag vir uitkom. Dit het alreeds die argument 50% opgelos. Ons kon ook nie meer oor dieselfde dinge baklei nie want ons het mekaar gedurig herinner dat ons op God wag vir uitkoms. Maar vêrder was die verandering in ons verhouding, gesindheid teenoor mekaar asook antwoorde oor ander sake waaroor ons gebid het, ongelooflik. Hoe dan anders? Jesus sê in Joh 14:13-14: "Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen."
Bring eenheid tussen man en vrou:
Wanneer ons saam bid kom ons in eenheid, nie net fisies nie maar ook geestelik. God verwag van ons as man en vrou maar ook as Christene om in eenheid te wees. En waar eenheid is, vereis God seën (Mat 18:19-20). Vêrder, wanneer daar eenheid tussen ons as man en vrou is, kan verdeeldheid, selfsug en rusie nie in kruip nie.
Bring bid geestelike groei vir man en vrou:
Dit is vir my skokkend hoeveel Christen mans en vrouens nie hul geloof met mekaar deel nie. Ek praat met soveel mense want werklik ‘n verhouding met God het maar nie eers seker is of hul maat geloofsekerheid het nie. Dit is so belangrik dat ons as man en vrou ons geloof met mekaar deel. Deel waarmee ons sukkel, waar ons in ons Geestelike wandel is en ons verlange na dit wat nog moet wees. Dan kan mens ook oor hierdie areas bid, mekaar aanmoedig en aanspreeklik hou.
Bring geestelike intimiteit tussen man en vrou:
Gebed is die mees intiemste aksie waartydens ons met God intiem kan verkeer. God weet alles van ons af. Daar is niks wat ons vir Hom kan wegsteek nie. Wanneer ons bid deel ons al hierdie dinge wat ander nie sien nie met God. Gebed is gesprek met God oor alles wat jou pla, die diepste diepste van jou binneste, dit is danksegging teenoor Hom vir al die goeie wat Hy doen. Wanneer ons hierdie aksie met ons maat deel verkeer ons ook op so ‘n vlak intiem met hom/haar. Dit is wanneer ons ons self so bloot stel dat ons God werklik toe laat om in ons lewens te kom werk en ons en ons maats te verander.
Verbeter kommunikasie tussen man en vrou:
Voordat ons saam kan bid of vir mekaar bid moet ons met mekaar begin kommunikeer: wat pla ons, waaroor is ons bekommerd, waaroor is ons bly, wat se uitdagings beleef ons. Wanneer mens so kommunikeer begin mens mekaar beter verstaan, begrip vir mekaar kweek en kan mens met wysheid en insig vir jou maat bid. Fil 4:6-7 verklaar: "Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus." So moet ons ook vir mekaar oor alles bid.
Maak dat ons voornemens geluk:
Ons moet eintlik niks aanpak voordat ons nie as man en vrou God geraadpleeg het nie. Sp 3:6 verklaar:“Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.” Hoeveel kere het jy al in jou lewe iets aangepak net omdat jy gedink het dit is die regte ding om te doen en later gewonder het hoekom jy in ‘n verknorsing sit? Wanneer ons God raadpleeg en doen wat Hy ons lei om te doen kan ons oortuig wees dat Hy by ons is en maak nie saak wat gebeur nie, Hy vir ons voornemens op die regte tyd sal laat geluk (Sp 16:3).
Het jy en jou maat al ooit saam gebid? Die vraag is nie hoekom nie maar wanneer gaan jul begin. Hoe langer jy dit uitstel hoe langer gaan jy met die frustrasies sit om deur jou eie krag jou huwelik, jou lewe en jouself te te verander.
Maak weekliks ‘n gebeds ‘date’ met jou maat. Ek en my man bid elke Maandagaand oor sekere areas van ons lewe. Ons kom by mekaar en bid oor die volgende sake. Soms is dit vir weke dieselfde ander kere verander dit weekliks:
· My verhouding met God byvoorbeeld ek wil graag ten volle besef hoe lief God my het, ek wil Hom sien soos Hy werklik is.
· My karakter byvoorbeeld ek wil onselfsugtig wees, ek wil meer geduldig wees, ek wil Geesvervuld lewe.
· My Werk byvoorbeeld uitdagings, ‘deadlines, mense.
· My Roeping byvoorbeeld ek wil ontdek wat my roeping, geestelike gawes, talente is, ek wil meer in my roeping leef, ek wil meer soos Jesus leef, doen wat Hy gedoen het.
· My verhouding met my maat byvoorbeeld ek wil meer vir jou wys eks lief vir jou, ek wil jou respekteer, ek wil jou opbou.
Ek bid dat jy die belangrikheid van hierdie saak sal besef en nie ‘n dag langer sal uitstel om hiermee te begin. Of begin dan ten minste om te bid en vir God te vra om jou en jou maat te help om saam te bid.
Jesusliefde Jonanda Burger
Indien jy hulp of ondersteuning nodig het in hierdie area van jou lewe of in jou huwelik kan jy my gerus skakel by 082 922 5081 vir ‘n afspraak.