Jy kan nie jou maat se optrede beheer nie, jy kan nog minder jou maat verander. Al wat jy wel kan beheer is hoe jy gaan voel, dink en reageer (optree) ten opsigte van jou maat se optrede.
Wie wil jy wees?? Hoe wil jy optree?? Wil jy as die kwaai, klakous, mislike, stilstuipe, ens. eggenoot bekend staan?
Of ‘n vriendelike, grappige, liefdevolle, warm, ens. eggenoot wees …. ten spyte van hoe jou maat optree?
Jy sien, as jy gaan toelaat dat jou optrede en gevoelens beheer word deur jou maat se optrede, beheer hy/sy jou en sal jy nooit wees of beleef wie God jou geskape het om te wees nie. Dus, as jou maat SÓ maak druk hy/sy jou knoppie en jy reageer SÓ!?
Ons grootste uitdaging as gelowiges in hierdie lewe is om ten spyte van mense se optrede of omstandighede aan te hou wees wie God sê ons is. Spreuke 15:15 in die Amplified sê dit vir my so mooi: “die persoon met ‘n blymoedige hart se hele lewe is ‘n fees ten spyte van omstandighede of mense se optrede.”
Dit kom vir my alles neer op of jy vertrou dat God vir jou veg, dat Hy in beheer is en net die beste vir jou wil hê. Jy sien as jy deur buie of optredes jou maat probeer beheer vetrou jy op jou eie kragte. Maar as jy met jou maat op ‘n mooi manier kan praat oor dit wat jou ontstel, kies om nogsteeds mooi op te tree en op God vertrou om die res te doen, het jy reeds die oorwinning en heel moontlik ‘n baie positiewer uitkoms!
Ek bid dat jy ‘n bonatuurlike vreugdevolle hart sal ontvang sodat elke situasie (ten spyte van mense se optrede of omstandighede) ‘n fees sal wees! Mag jy besef hoe ‘n kragtevolle mens jy is en mag jy reg kies!”