Kan my maat net ophou verlief wees op my?

Ek dink een van die grootste uitdagings in die huwelik is dat mense gewoond raak aan mekaar. In die begin voordat mens getroud is doen jy so baie moeite met mekaar om mekaar te ‘wen’ en natuurlik ook omdat mens mekaar geniet. Hoe langer jy bymekaar is hoe makliker is dit om gewoond aan mekaar te raak en die klein dingetjies wat jou of jou maat geliefd laat voel, af te skeep.

Daarom is dit so belangrik om altyd spesiale dingetjies vir mekaar te doen of te sê sodat ons liefdestenke kan vol bly.

Enige gevoel ontstaan deur die gedagtes wat ons dink…. Dus, dit wat ek oor my maat dink, of hy/sy oor my, beïnvloed hoeveel liefde ek voel teenoor my maat. As my maat mooi gedagtes oor my dink of ten minste net aan my dink sal hy/sy meer verlief en liefde voel teenoor my maar as hy/sy negatief dink oor my kan dit die liefde definitief onderdruk en seer maak.

Ek of my maat raak dus nie per ongeluk net verlief op mekaar of op iemand anders nie. 𝙑𝙚𝙧𝙡𝙞𝙚𝙛 𝙞𝙨 𝙣𝙞𝙚 ‘𝙣 𝙗𝙤𝙣𝙖𝙩𝙪𝙪𝙧𝙡𝙞𝙠𝙚 𝙙𝙞𝙣𝙜 𝙬𝙖𝙩 𝙜𝙚𝙗𝙚𝙪𝙧 𝙣𝙞𝙚. 𝘿𝙞𝙚 𝙜𝙚𝙙𝙖𝙜𝙩𝙚𝙨 𝙬𝙖𝙩 𝙚𝙠 𝙫𝙖𝙣 ‘𝙣 𝙖𝙣𝙙𝙚𝙧 𝙥𝙚𝙧𝙨𝙤𝙤𝙣 𝙙𝙞𝙣𝙠 𝙢𝙖𝙖𝙠 𝙢𝙮 𝙫𝙚𝙧𝙡𝙞𝙚𝙛 𝙤𝙥 𝙙𝙖𝙖𝙞 𝙥𝙚𝙧𝙨𝙤𝙤𝙣.

Dus kan iets soos “hierdie persoon luister so mooi na my, gee rêrig om, is so mooi ens.” maak dat ek verlief voel op daardie persoon.

Daar is egter ‘n sielsband tussen ‘n egpaar wat deur God daar gestel is om ons saam te bind. God ag die band uiters belangrik wat die liefde ook tussen ‘n man en vrou sterker maak.

Die liefde kan gekoester word en ook weer lewendig gemaak word deur die dinge te doen wat jong verliefdes doen! Behandel mekaar spesiaal, doen spesiale dinge vir mekaar, doen lekker dinge saam en doen moeite om mekaar se liefdestaal te praat asook positiewe en mooi dinge in jou maat raak te sien en dan daaroor te dink! Dit is jou keuse!!!

Sê iets …?

Sukkel jy ook dat jou maat met jou moet praat, sy/haar hart deel of sommer net gesels? Daar kan verskeie redes wees hoekom jou maat nie oopmaak teenoor jou nie:

• Persoonlikheid: introverte praat moeiliker as ekstroverte. Introverte het tyd nodig om oor ‘n saak te dink voordat hy/sy kan antwoord. Glo dit of nie, eenvoudige vrae soos: hoe voel jy oor ons kind se eksamenuitslae, wat wil jy die naweek doen, wat is jou drome ens. Omdat introverte vol word deur alleentyd te spandeer, asook dinge prosesseer wanneer dit stil is kan hul eenvoudig nie dadelik antwoord nie. Jy kan jou maat help om te gesels deur te sê: wanneer jy kans het sal ek graag wil gesels oor die naweek planne of ons kind se eksamenuitslae; ek sal so graag jou drome wil hoor wanneer jy reg is ens. Dit help jou maat om sy/haar gedagtes te laat gaan en op te maak daaroor.

• Bang vir verwerping: iemand wat seergekry het in sy/haar verlede sal ‘n beskermingsmeganisme hê om hul te verhoed om weer seer te kry. Wanneer jy dit verstaan kan jy begin om vir jou maat onvoorwaardelike liefde te gee veral al hy/sy dit nie verdien nie. Dit sal help om die vrees vir verwerping te genees. Wanneer só ‘n persoon beleef dat iemand hom/haar aanvaar wanneer hy/sy die minste aanvaar voel word nuwe ervarings opgebou en word ‘n veilige atmosfeer vir geselskap geskep. As jy besef jy sukkel om te praat as gevolg van ‘n vrees vir verwerping gaan praat met ‘n berader wat jou kan help om gesond in jou verhouding te leef.

• Bang vir kritiek: wanneer gesprekke in die verlede op kritiek uitgeloop het of gebruik is teen hom/haar sal ‘n persoon minder openlik deel. Wanneer jou maat iets deel, hou die fokus op die saak en moenie dit persoonlik maak nie. Laat jou maat voel jy is aan sy/haar kant. Jy veg die saak en nie hom/haar nie, byvoorbeeld as jul oor finansies gesels bly aan jou maat se kant en vind maniere hoe die uitdaging opgelos kan word.

• Maats wat kla: niemand wil iets doen omdat daar gedurig gekla word nie, mens voel gemanipuleer en opstandig. ‘n Beter manier om jou maat se aandag te kry is om gesprekke met interessanthede te trek soos byvoorbeeld: jy sal nie glo wat vandag gebeur het nie; raai wat …. ens.

• Word jou maat se vriend: mens gesels graag met iemand waarmee jy kan lag, stokperdjies kan deel en veilig by voel.

• Bid vir julle kommunikasie: God het julle geskape om goed te kan kommunikeer en jul lewens te kan deel. Hy het gesê dit is nie goed om alleen te wees nie maar ‘n huwelik waar mens nie maklik gesels nie is baie alleen. God kán en sál soveel bonatuurlike genesing en herstel doen as jy Hom toelaat! God sal ook kreatiewe maniere gee om jou maat te help praat.

• Word weer verlief: flirt met jou maat, maak ogies en laat haar/hom goed voel oor homself/haarself. Dink net hoe lekker jul gesels het toe jul nog mekaar se harte probeer wen het. Die huwelik is nie ‘n ou boom wat volgroeid is nie maar ‘n jong boompie wat gedurig aandag en kos nodig het as jy die volheid van die oes en vrug wil geniet! Koester dit!

Grense in verhoudings

Goddelike grense beteken dat ek beheer neem van my eie lewe, liggaam en besluite, ens. EN terselfdertyd respek toon vir iemand anders se persoonlike ruimte, persoonlikheid, gevoelens ens.

Wanneer ons oor grense praat is dit belangrik om te besef dat ek nie ander kan beheer deur my optrede nie en ook nie verantwoordelikheid vat vir hul optredes nie. Al waaroor ek beheer het is myself en om te KIES hoe ek sal optree ten opsigte van ander. Wanneer ek reageer ten opsigte van hul optrede laat ek toe dat hulle my beheer. Maar as ek kies om nogsteeds respekvol en kalm op te tree, regeer ek oor húl optrede.

Meeste mense wat ander wil beheer tree uit vrees op en hoop om deur een of ander manier van manipulasie beheer toe te pas om hul eie gewenste uitkoms te kry. Dit ontstaan gewoonlik uit onsekerhede uit hul verlede en dit sal só ‘n persoon baie goed doen om ‘n berader te sien om deur hierdie seer te werk en die behoefte aan beheer te vervang met nuwe gesonde optredes.

Maar hoe maak ek as my maat my probeer beheer en minagtend optree teenoor my?

Die eerste stap is om te besef dat jy en jou maat waardevol is en dat jy die reg het om grense te stel. Jesus self het ook grense gestel. Christene het baie keer die verkeerde indruk dat ons moet toelaat dat mense oor ons loop. Dit versterk egter jou maat se verkeerde optrede.

Die tweede stap is om op ‘n respekvolle manier vir jou maat te sê dat wat hy of sy doen nie vir jou lekker is nie. Dit beteken nie dat jy jou maat persoonlik aanvat of afbreek nie maar eerder iets soos: “as jy op my skree maak dit my baie angstig en is dit vir my moeilik om warm teenoor jou op te tree omdat ek voel ek moet myself beskerm”.

Stap drie is om die grens daar te stel. Dit kan iets wees soos: “wanneer jy op my skree, gaan ek eers ‘n draai loop sodat jy kan afkoel. As jy rustig is en ons kan mooi met mekaar praat sal ek graag die gesprek op ‘n sinvolle opbouende manier voort wil sit.”

Stap vier is om, wanneer hierdie minagtende optrede plaasvind, jy jouself uit die situasie verwyder en deurvoer met jou grens. Dit beteken nie jy breek konneksie met jou maat, trek uit of skei nie. Jy verwyder jouself tot en met jou maat kies om jou respekvol te behandel. Dit kan 5 minute vat of n paar uur.

Wanneer mens grense stel sal die ander party meestal nie vreeslik opgewonde wees oor die nuwe jy nie maar soos jy hierdie grense toepas sal dit ook ‘n gesonde en veilige plek wees vir hom/haar om te groei.

Wanneer daar fisiese aanranding is, bel dadelik die polisie en verwyder jouself uit die prentjie. Dit is teen die wet en moet nie geduld word nie. Weereens sê ek nie hierdeur dat jy moet skei nie maar dat jy jouself moet verwyder tot en met jou maat leer om jou met eerbied te behandel.

Indien jy meer wil leer oor Goddelike grense kan jy gerus Danny Silk se blog Loving on Purpose besoek. Daar is wonderlike stukkies om te lees of kort video’s om te kyk.

https://lovingonpurpose.com/about/

Vir ewig en vir altyd?

Niks in hierdie lewe is perfek nie en verseker so ook nie die huwelik nie. Wanneer mens statistieke lees oor egskeidings besef mens dit net soveel meer. Die geheim tot ‘n huwelik wat alle toetse deurstaan is egter nie dat albei partye perfek optree of dat die huwelik altyd presies is wat mens wens dit moet wees nie.

Die feit van die saak is almal maak foute. Foute is egter nie mislukking nie maar ‘n geleentheid om iets uit jou fout/e te leer en dit anders te doen. Die “leer” vat soms tyd… soms jare!! Ek ervaar dat baie mense egter hul maats se foute persoonlik opneem en voel as hul maat hul lief genoeg het sal hul verander. Verandering vat egter tyd. God self sê in Rom 12:2 dat Hy ons wil verander deur die vernuwing van ons gedagtes.

Ek glo egter dat daar drie goue sleutels is om vir ewig en vir altyd in die huwelik te bly … en selfs vreugde en bevrediging te ervaar binne die huwelik:

1. 𝙊𝙣𝙫𝙤𝙤𝙧𝙬𝙖𝙖𝙧𝙙𝙚𝙡𝙞𝙠𝙚 𝙡𝙞𝙚𝙛𝙙𝙚:

Voorwaardelike liefde plaas die skuld op sy maat, verwag dinge in ruil vir alles, hou aan vra vir meer en “straf” jou maat as hy of sy nie hul foute korrigeer nie. Terwyl onvoorwaardelike liefde beteken ten spyte van … al die foute kies jy om jou maat lief te hê, dat jy jou maat aanvaar sonder om iets terug te verwag en dat jy jou maat met respek, genade en geduld hanteer. Onvoorwaardelike liefde veroorsaak sekuritieit vir jou maat en ‘n gesonde plek om te groei, ‘n plek wat jou maat sal laat voel: ek word aanvaar nes ek is maar ek wil graag verander om alles te wees wat God sê ek is.

2. 𝙒𝙞𝙚 𝙬𝙞𝙡 𝙚𝙠 𝙜𝙧𝙖𝙖𝙜 𝙬𝙚𝙚𝙨?

Ek moet nie toelaat dat my optrede bepaal word deur my maat se optrede nie. Dus as hy/sy vriendelik is, is ek vriendelik en visa versa. Ek moet besluit ek wil ‘n vriendelike, warm, opgeruimede, snaakse, sensuele ens. persoon wees ten spyte van ander se optrede of selfs omstandighede. Anders word ek beheer (soos ‘n “string puppet”) deur my maat se optrede. Wie wil jy graag wees?

3. 𝙊𝙢 𝙩𝙚 𝙤𝙣𝙩𝙝𝙤𝙪 𝙙𝙖𝙩 𝙟𝙮 ‘𝙣 𝙗𝙚𝙡𝙤𝙛𝙩𝙚 𝙖𝙖𝙣 𝙂𝙤𝙙 𝙜𝙚𝙢𝙖𝙖𝙠 𝙝𝙚𝙩: Dit is nie ligtelik nie. Maar God is ook daar om jou te bly help. Bly bid vir jou huwelik en jou maat en jouself sodat jou huwelik sal bly groei, heel wees en alles sal wees wat God met die huwelik bedoel het.

Hiermee sê ek nie dat onvoorwaardelike liefde is dat jy mense moet toe laat om jou te mishandel nie. Dit is waar Goddelike grense in kom. Volgende week sal ek meer uitbrei oor grense…

LEWE GESOND IN DIE HUWELIK

Laasweek het ons gesels oor hoe seer uit jou verlede kan beiïnvloed dat jy negatief in jou huwelik optree. Lees gerus laasweek se artikel.

Hierdie week wil ons kyk hoe ons gesond kan word van die seer uit die verlede.

Hier is ‘n paar stappe:

1. Vergewe die mense wat jou seer gemaak het.

2. Vra Vader God om die wonde te kom genees.

3. Sit die seer en onvervulde behoeftes in ‘n denkbeeldige pakkie en gee dit vir God. Ervaar dan wat Hy vir jou gee in die plek daarvan en dat Hy jou genees.

4. Wees bewus van die onvervulde behoeftes wat jy het. Bespreek dit met jou maat sodat hy/sy beter kan verstaan hoe om jou te help daarin.

5. Sien raak as jou maat probeer om hierdie behoeftes aan te spreek al kry hy/sy dit nie 100% reg nie.

6. Neem die res van jou behoeftes na Vader God sodat Hy dit kan vervul op die manier wat jy nodig het. Fil 4:19 verklaar dat God ryklik aan elkeen van jou behoeftes sal voldoen. So waar gaan jy jou vertroue sit?

7. Weet wie jy reeds in Christus Jesus is en wat Hy vir jou aan die kruis gedoen het. Wanneer jy jou identiteit in God vind, kry jy vrede want jy besef dit is iets wat jy reeds IS en nie iets waarvoor jy hoef te werk nie: waardevol, geliefd, veilig en kosbaar!

Genesing is n proses. Wees bewus van wat jy voel en dink en lê dit telke male neer voor God sodat Hy dit kan genees. Dit is Sy wil en waarvoor Jesus vir ons gesterf het.

As jy sukkel op jou eie kan jy iemand gaan sien soos ‘n berader wat jou kan help met bg. stappe.

Onregverdige verwagtings?

Verwag jy dat jou maat jou onvervulde behoeftes van die verlede moet bevredig?

God het aan ons almal Goddelike behoeftes gegee om te beleef, soos die volgende: geliefd, veilig, waardevol, vertroos, versorg en dat jy behoort.

God het ons dan in ‘n gesin geplaas om daardie behoeftes te vervul:

‘n Vader se rol is om ‘n kind veilig te laat voel, aan die kind te voorsien en om identiteit vir die kind te leer.

‘n Mamma se rol is om ‘n kind te versorg, te vertroos en te onderrig.

Broers en susters se rol is om vriendskap en ‘n gevoel van “ek behoort” te gee.

Indien jy ervaar het dat hierdie behoeftes nie bevredig is tydens jou kinderdae nie, mag dit seer, leuens oor wie jyself en God is, asook beskermingsmeganismes veroorsaak het.

Hierdeur sê ek nie dat jou ouers sleg was nie. Ek is self ‘n ouer en wil glo ek is ‘n goeie ouer maar ek weet ek maak baie foute en verstaan nie altyd wat my kinders nodig het nie.

Dit gaan egter oor of jy wel ervaar het dat jy geliefd, beskermd, voorsien, vertroos, versorg, geleer (onderrig) en ‘n wete van ek behoort, beleef het as kind.

Indien nie, mag jy dalk tans hierdie onvervulde behoeftes in jou huwelik in bring. Met ander woorde: beskermingsmeganismes om jou self te beskerm; verwagting dat jou maat sekere dinge moet doen wat dalk nie hy/sy rol is nie, die heletyd minderwaardig, ongelief of onseker voel of net nie jou hart oopmaak nie, omdat jy te bang is om weer seer te kry.

Indien jy enige van bogenoemde ervaar, kyk uit vir volgende week as ons meer gaan sê oor hoe om gesond in jou huwelik te lewe!

Om beter te kan hoor my kind?

Dit is maklik om te sê jy luister (of voor te gee dat jy luister) na jou maat maar hoor jy rerig wat hy/sy sê? Die sleutel tot enige goeie huwelik is goeie gesonde kommunikasie! Die geheim vir goeie kommunikasie is om egter eers rerig te hoor wat jou maat sê nog voordat jy dit wat jy wil sê reg kry. 

Hier is vyf maniere om ‘n goeie luisteraar te wees:

  1. Luister met empatie: dit is om jouself in jou maat se skoene te sit en te probeer verstaan hoe hy/sy voel. Sien dinge deur jou maat se oë. Dit sal maak dat jy nie op die aanval of beskerming sal wees nie maar met liefde en omgee sal antwoord. 

  2. Luister vir emosie: dit is maklik om oorweldig te word deur jou eie emosies. Wanneer jy egter fokus op hoe jou maat voel bring dit duidelikheid en help dit jou om soos Jesus op te tree in die situasie. 

  3. Luister sonder vooroordeel: almal het hul eie opinies. Wanneer julle iets bespreek waaroor jy sterk voel, sit jou eie opinie op sy vir ‘n ruk en hoor wat jou maat rerig sê. Pas empatie toe om te probeer verstaan hoekom jou maat so dink of voel. Dit beteken nie jy moet jou opinie verander nie maar sal help om eenheid tussen julle te behou al verskil jul van mening. Dit sal ook help dat jy werklik hoor wat jou maat sê sonder om als deur jou eie vooroordeel te filter. 

  4. Luister liefdevol: deur postiewe liggaamstaal te gebruik asook oog kontak te behou. Draai jou liggaam na hom/haar toe en stop waarmee jy besig is. 

  5. Luister mildelik: jou maat benodig jou tyd. Dit is moeilik om in ons besige lewens tyd te maak maar as mens wel dit doen sal mens die vrug van ‘n gesonde en liefdevolle huwelik pluk. Wanneer mens mildelik luister sal jou maat veilig voel om na jou toe te kom om sy/haar hart met jou te deel. 

Hoekom tree my maat só op? 

God het elkeen van ons met verkillende persoonlikhede geskape. Ons doen, dink en sien dinge verskillend. Wanneer my maat dinge anders doen as ek is dit nie om my te frustreer nie maar net omdat hy/sy anders aan mekaar gesit is en dus meer geneig is om dinge spontaan, sonder om daaraan te dink, so te doen.

Die goeie nuus hier is dat een van die redes hoekom God die huwelik daar gestel het is sodat ons mekaar wederkeurig kan aanvul! Waar ek dalk swakpunte het is my man jn sterk en visa versa. Soos Sylvester Stalone in Rocky gesê het: “I have got gaps and you have got gaps but together we fit perfectly.”

Teenoorgesteldes trek mekaar aan sodat hul mekaar kan aanvul en geniet. Maar as hul nie mekaar help of hul sterkpunte vir mekaar leer nie dan raak dit die grootste geskil punt as getroud is. 

As jy jou maat beter wil verstaan, dalk jouself ook dan is ‘n persoonlikheidtoets die ideale manier om te verstaan hoekom jou maat funksioneer soos hy/sy doen. 

‘n Oulike toets wat ek van hou om te gebruik is die 16 personalities. Jy en jou maat kan dit hier doen. https://www.16personalities.com/

Hier is ‘n vinnige verduideliking van elke groep. 

1. Persoonlikheid/temprament tipe: nie verskoning om verkeerd op te tree nie. Soos mens meer geestelik volwasse raak leer mens om binne jou temprament soos Jesus op te tree. 

Verstand: Hierdie aspek wys hoe ons met ons omgewing omgaan:

E- Ekstoverte verkies groepsaktiwiteite en word aangespoor deur sosiale interaksie. Hulle is geneig om meer entoesiasties en makliker opgewonde te wees as introverte.

I- Introverte verkies aktiwiteite waar hul alleen kan wees en word uitgeput deur sosiale interaksie. Hulle is geneig om baie sensitief te wees vir eksterne stimulasie (bv. Klank, sig of reuk) in die algemeen.

Energie: hierdie aspek bepaal hoe ons die wêreld sien en inligting verwerk:

S- Waarnemende individue is hoogs prakties, pragmaties en plat op die aarde. Hulle is geneig om sterk gewoontes te hê en te fokus op wat aangaan of reeds gebeur het.

N- Intuïtiewe individue is baie verbeeldingryk, openhartig en nuuskierig. Hulle verkies nuwe dinge bo stabiliteit en fokus op verborge betekenisse en toekomstige moontlikhede.

Natuur: Hierdie aspek bepaal hoe ons besluite neem en emosies hanteer:

T- Denkende individue fokus op objektiwiteit en rasionaliteit en prioritiseer logika oor emosies. Hulle is geneig om hul gevoelens weg te steek en sien doeltreffendheid belangriker as samewerking. 

F- Emosionele individuele is sensitief en emosioneel ekspressief. Hulle is meer empaties en minder mededingend as Denkende tipes, en fokus op sosiale harmonie en samewerking.

Taktiek: Hierdie aspek weerspieël ons benadering tot werk, beplanning en besluitneming:

J- Oordelende individue is beslissend, deeglik en hoogs georganiseerd. Hulle verkies duidelikheid, voorspelbaarheid en sake afgehandel, asook struktuur en beplanning eerder as spontaniteit.

P- Voornemende individue is baie goed om geleenthede te kweek en raak te sien. Hulle is geneig om buigsame en ontspanne en te wees. Hul verkies ook om hul opsies oop te hou.

Identiteit ondersteun alle ander aspekte en wys hoe selfversekerd ons is in ons vermoëns en besluite:

A- Versekerde individue is selfversekerd, gelykmatig en bestand teen stres. Hulle weier om te veel bekommerd te wees en plaas nie te veel druk op hulself om hul doelwitte te bereik nie.

T- Turbulente individue is selfbewus en sensitief vir stres. Hulle sal waarskynlik ‘n wye verskeidenheid emosies ervaar. Hulle is geneig om suksesvol en perfeksionisties te wees en gretig om te verbeter.

Jy kan dus sien hoe jy en jou maat verskil maar ook mekaar aanvul. Wanneer mens in die huwelik kies om mekaar se verskille te vier eerder as ‘n frustrasie te sien dan word mens saam sterker en geniet mekaar en die huwelik meer! 

Volg jy die resep?

Ek het twee belydenisse wat ek wil maak vandag.

Nr 1: Ek absoluut love love love wortelkoek! My gunsteling! As ek kon, sou ek dit elke oggend sommer vir ontbyt verslind en probeer wegkom met die idee dat dit báie gesond is as gevolg van die neute en natuurlik die wortels!

Nr 2: Ek haat dit om ‘n resep te volg. Nodeloos om te sê dat ek nie meer self probeer om wortelkoek te bak nie want dit flop telke male.

Die geheim van enige lekker koek is om die resep te volg. Soms is dit bietjie harde werk maar die uitkoms is elke keer (glo my, ELKE keer) die moeite werd.

Dit is net so met die huwelik! Dit maak my so hartseer om te sien hoeveel huwelike word vernietig omdat mense dink as die ja-woord gegee is, is die werk gedoen en nou gaan my huwelik fantasties wees. Wel, nee!

Enige iets wat die moeite werd is vat werk en moet mens sekere dinge byvoeg (soos die eiers, melk, wortels ens.) sodat dit fantasties kan wees.

Dieselfde geld om ‘n maraton te gaan hardloop. Ek staan nie net een dag op en gaan doen dit nie. Nee, ek sit harde werk in, offer sekere dinge op, maar die uitkoms is so belowend.

As jy ‘n belowende, fantastiese en lekker huwelik wil hê moet jy sekere dinge doen sodat jy die ongelooflike lekkerte en bederf, wat God daarmee bedoel het, kan geniet!

Resep vir ‘n goeie huwelik:

70 x 7 ~ Vergewe mekaar volkome en aanhoudend

1 x per dag ~ Bid saam

1 x per dag ~ Ontdek saam die Bybel en God se waarhede (hoe nader ons aan God groei hoe nader groei ons na mekaar)

2 x per maand (ten minste) ~ Date night

24/7 ~ Lag saam

86400 sekondes per dag ~ Sien mekaar deur God se oë

1 x per dag ~ Bou mekaar op

1440 minute per dag ~ Hoor wat jou maat sê

365 per jaar ~ Leer jou maat beter ken

Gereeld ~ Begin ‘n saam ‘n stokpertjie of deel belangstellings

Baie gereeld ~ Maak liefde