Sê iets …?

Sukkel jy ook dat jou maat met jou moet praat, sy/haar hart deel of sommer net gesels? Daar kan verskeie redes wees hoekom jou maat nie oopmaak teenoor jou nie:

• Persoonlikheid: introverte praat moeiliker as ekstroverte. Introverte het tyd nodig om oor ‘n saak te dink voordat hy/sy kan antwoord. Glo dit of nie, eenvoudige vrae soos: hoe voel jy oor ons kind se eksamenuitslae, wat wil jy die naweek doen, wat is jou drome ens. Omdat introverte vol word deur alleentyd te spandeer, asook dinge prosesseer wanneer dit stil is kan hul eenvoudig nie dadelik antwoord nie. Jy kan jou maat help om te gesels deur te sê: wanneer jy kans het sal ek graag wil gesels oor die naweek planne of ons kind se eksamenuitslae; ek sal so graag jou drome wil hoor wanneer jy reg is ens. Dit help jou maat om sy/haar gedagtes te laat gaan en op te maak daaroor.

• Bang vir verwerping: iemand wat seergekry het in sy/haar verlede sal ‘n beskermingsmeganisme hê om hul te verhoed om weer seer te kry. Wanneer jy dit verstaan kan jy begin om vir jou maat onvoorwaardelike liefde te gee veral al hy/sy dit nie verdien nie. Dit sal help om die vrees vir verwerping te genees. Wanneer só ‘n persoon beleef dat iemand hom/haar aanvaar wanneer hy/sy die minste aanvaar voel word nuwe ervarings opgebou en word ‘n veilige atmosfeer vir geselskap geskep. As jy besef jy sukkel om te praat as gevolg van ‘n vrees vir verwerping gaan praat met ‘n berader wat jou kan help om gesond in jou verhouding te leef.

• Bang vir kritiek: wanneer gesprekke in die verlede op kritiek uitgeloop het of gebruik is teen hom/haar sal ‘n persoon minder openlik deel. Wanneer jou maat iets deel, hou die fokus op die saak en moenie dit persoonlik maak nie. Laat jou maat voel jy is aan sy/haar kant. Jy veg die saak en nie hom/haar nie, byvoorbeeld as jul oor finansies gesels bly aan jou maat se kant en vind maniere hoe die uitdaging opgelos kan word.

• Maats wat kla: niemand wil iets doen omdat daar gedurig gekla word nie, mens voel gemanipuleer en opstandig. ‘n Beter manier om jou maat se aandag te kry is om gesprekke met interessanthede te trek soos byvoorbeeld: jy sal nie glo wat vandag gebeur het nie; raai wat …. ens.

• Word jou maat se vriend: mens gesels graag met iemand waarmee jy kan lag, stokperdjies kan deel en veilig by voel.

• Bid vir julle kommunikasie: God het julle geskape om goed te kan kommunikeer en jul lewens te kan deel. Hy het gesê dit is nie goed om alleen te wees nie maar ‘n huwelik waar mens nie maklik gesels nie is baie alleen. God kán en sál soveel bonatuurlike genesing en herstel doen as jy Hom toelaat! God sal ook kreatiewe maniere gee om jou maat te help praat.

• Word weer verlief: flirt met jou maat, maak ogies en laat haar/hom goed voel oor homself/haarself. Dink net hoe lekker jul gesels het toe jul nog mekaar se harte probeer wen het. Die huwelik is nie ‘n ou boom wat volgroeid is nie maar ‘n jong boompie wat gedurig aandag en kos nodig het as jy die volheid van die oes en vrug wil geniet! Koester dit!