Goddelike grense beteken dat ek beheer neem van my eie lewe, liggaam en besluite, ens. EN terselfdertyd respek toon vir iemand anders se persoonlike ruimte, persoonlikheid, gevoelens ens.
Wanneer ons oor grense praat is dit belangrik om te besef dat ek nie ander kan beheer deur my optrede nie en ook nie verantwoordelikheid vat vir hul optredes nie. Al waaroor ek beheer het is myself en om te KIES hoe ek sal optree ten opsigte van ander. Wanneer ek reageer ten opsigte van hul optrede laat ek toe dat hulle my beheer. Maar as ek kies om nogsteeds respekvol en kalm op te tree, regeer ek oor húl optrede.
Meeste mense wat ander wil beheer tree uit vrees op en hoop om deur een of ander manier van manipulasie beheer toe te pas om hul eie gewenste uitkoms te kry. Dit ontstaan gewoonlik uit onsekerhede uit hul verlede en dit sal só ‘n persoon baie goed doen om ‘n berader te sien om deur hierdie seer te werk en die behoefte aan beheer te vervang met nuwe gesonde optredes.
Maar hoe maak ek as my maat my probeer beheer en minagtend optree teenoor my?
Die eerste stap is om te besef dat jy en jou maat waardevol is en dat jy die reg het om grense te stel. Jesus self het ook grense gestel. Christene het baie keer die verkeerde indruk dat ons moet toelaat dat mense oor ons loop. Dit versterk egter jou maat se verkeerde optrede.
Die tweede stap is om op ‘n respekvolle manier vir jou maat te sê dat wat hy of sy doen nie vir jou lekker is nie. Dit beteken nie dat jy jou maat persoonlik aanvat of afbreek nie maar eerder iets soos: “as jy op my skree maak dit my baie angstig en is dit vir my moeilik om warm teenoor jou op te tree omdat ek voel ek moet myself beskerm”.
Stap drie is om die grens daar te stel. Dit kan iets wees soos: “wanneer jy op my skree, gaan ek eers ‘n draai loop sodat jy kan afkoel. As jy rustig is en ons kan mooi met mekaar praat sal ek graag die gesprek op ‘n sinvolle opbouende manier voort wil sit.”
Stap vier is om, wanneer hierdie minagtende optrede plaasvind, jy jouself uit die situasie verwyder en deurvoer met jou grens. Dit beteken nie jy breek konneksie met jou maat, trek uit of skei nie. Jy verwyder jouself tot en met jou maat kies om jou respekvol te behandel. Dit kan 5 minute vat of n paar uur.
Wanneer mens grense stel sal die ander party meestal nie vreeslik opgewonde wees oor die nuwe jy nie maar soos jy hierdie grense toepas sal dit ook ‘n gesonde en veilige plek wees vir hom/haar om te groei.
Wanneer daar fisiese aanranding is, bel dadelik die polisie en verwyder jouself uit die prentjie. Dit is teen die wet en moet nie geduld word nie. Weereens sê ek nie hierdeur dat jy moet skei nie maar dat jy jouself moet verwyder tot en met jou maat leer om jou met eerbied te behandel.
Indien jy meer wil leer oor Goddelike grense kan jy gerus Danny Silk se blog Loving on Purpose besoek. Daar is wonderlike stukkies om te lees of kort video’s om te kyk.