Dit is maklik om te sê jy luister (of voor te gee dat jy luister) na jou maat maar hoor jy rerig wat hy/sy sê? Die sleutel tot enige goeie huwelik is goeie gesonde kommunikasie! Die geheim vir goeie kommunikasie is om egter eers rerig te hoor wat jou maat sê nog voordat jy dit wat jy wil sê reg kry.
Hier is vyf maniere om ‘n goeie luisteraar te wees:
-
Luister met empatie: dit is om jouself in jou maat se skoene te sit en te probeer verstaan hoe hy/sy voel. Sien dinge deur jou maat se oë. Dit sal maak dat jy nie op die aanval of beskerming sal wees nie maar met liefde en omgee sal antwoord.
-
Luister vir emosie: dit is maklik om oorweldig te word deur jou eie emosies. Wanneer jy egter fokus op hoe jou maat voel bring dit duidelikheid en help dit jou om soos Jesus op te tree in die situasie.
-
Luister sonder vooroordeel: almal het hul eie opinies. Wanneer julle iets bespreek waaroor jy sterk voel, sit jou eie opinie op sy vir ‘n ruk en hoor wat jou maat rerig sê. Pas empatie toe om te probeer verstaan hoekom jou maat so dink of voel. Dit beteken nie jy moet jou opinie verander nie maar sal help om eenheid tussen julle te behou al verskil jul van mening. Dit sal ook help dat jy werklik hoor wat jou maat sê sonder om als deur jou eie vooroordeel te filter.
-
Luister liefdevol: deur postiewe liggaamstaal te gebruik asook oog kontak te behou. Draai jou liggaam na hom/haar toe en stop waarmee jy besig is.
-
Luister mildelik: jou maat benodig jou tyd. Dit is moeilik om in ons besige lewens tyd te maak maar as mens wel dit doen sal mens die vrug van ‘n gesonde en liefdevolle huwelik pluk. Wanneer mens mildelik luister sal jou maat veilig voel om na jou toe te kom om sy/haar hart met jou te deel.