OM JOUSELF TE OFFER

Deur Jonanda Burger

In Levitikus 1 tot 7 word ’n lys gegee van die belangrikste offers wat die Israeliete vir God moes bring.

Brandoffers om God se guns te soek.

Graanoffers om toewyding aan God te verklaar en erkenning dat die kos uit God se hand kom. Maaltydoffers om dank-baarheid teenoor God te betuig en saam met Hom te verkeer. Sondeoffers om vergifnis te verkry van sondes wat nie doelbewus gedoen is nie. Skuldoffers om die onreg wat ‘n ander aangedoen is weer goed te maak.

Eerstens, was hierdie offers bedoel om vergewing by God te soek vir die oortredings wat begaan is. Tweedens, was die offers gebring om die verhouding met God te herstel en in stand te hou. Derdens, om uiting te gee van dankbaarheid teenoor God.

Die persoon wat so ‘n offer gemaak het, het die offer totaal en al (geheel) oor gegee. Dus die persoon het alle reg of aanspraak op die offer neer gelê sodat die offer gebruik kon word tot eer van God.

Vir die wat glo in Jesus Christus as hul enigste Verlosser, is die volmaakte en finale offer gebring toe Jesus Christus aan die kruis vir ons sondes betaal het en die wat aan Hom behoort finaal met God versoen het. Daarom hoef ons nou nie meer dinge te doen om deur God vergewe te word of ons verhouding met Hom te herstel nie.

Hoe wonderlik is dit nie om met sekerheid te weet dat my en jou sondelas volkome, finaal en geheel betaal is. Dat ek en jy nooit weer allerhande offers en werke hoef te doen om ons verhouding met God reg te stel nie.

Kyk egter wat Jesus in Mat 16:24 vir sy dissipels sê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.”

Dus, ons moet ons eie sondige self, ons wil, ons liggaam, ons siel, ons hele wese oorgee aan God.

Paulus sê dit vir my so mooi in Rom 12:1: “En nou doen ek ‘n beroep op julle broeders, op grond van die groot ontferming van God: gee julself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.”

As ‘n mens werklik besef wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het: dat Hy Sy lewe vir ons neergelê het, gesterf het in ons plek, ons gered het van ‘n ewige en brandende vuur – ‘n plek verwyderd van God, en ‘n oorwinningslewe hier op aarde gegee het, kan mens nie anders as om te sê Here hier is my lewe nou, ek gee dit vir U terug sodat U dit vir U eie eer en Koninkryk kan gebruik.

Dit klink groot, erg en baie swaar om mens se eie lewe as offer neer te lê maar dis ‘n leuen van die duiwel. Die beste plek om te wees is in God se perfekte en volmaakte wil. God gee vir ons voorskrifte nie om ons te beperk of te bind nie maar omdat Hy vreeslik lief is vir ons, ons wil beskerm en ware vreugde wil laat geniet.

Jak 1:27 beskryf ons oorgee aan God soos volg: “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jouself skoon te hou teen die besmetting van die wêreld.”

Om ons lewe dus neer te lê en lewende en heilige offers vir God te wees beteken dus om nie meer vir ons self en ons eie voordeel en genot te lewe nie maar om te lewe soos wat Jesus gelewe het, te doen wat Hy gedoen het en te gee soos Hy gegee het – Sy alles! Dit is om ‘n kop skuif te maak om dinge te doen vir die hier en nou, na om dinge te doen wat ‘n ewigheidswaarde het, wat skatte vir jou in die hemel gaan versamel (Mat 6:19) en ‘n nalatenskap op aarde vir na te laat.

Ons moet ook onthou dat alles wat ons besit kom uit God se hand (Jak 1:17) en ons is slegs rentmeesters daarvan wat eendag voor God verslag sal moet doen oor wat ons met Sy besittings gemaak het: uitgebuit en vir ons self gehou of gedeel en versprei in Sy Koninkryk.

Die wonderlikste van alles is dat ons selfs iets terug ontvang as ons ons self, besittings en lewe vir God gee:

God sê in Mal 3:10 “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie.

Wat jy gee sal jy ook terug ontvang – wat ons saai sal ons maai (Gal 6:7).

Dit is lekkerder om te gee as om te ontvang. Dis die mees vervullendste en lekkerste gevoel as mens vir ander iets doen of bydrae om iemand anders se lewe te verander. Vra enige iemand wat al op ‘n uitreik was!

My vraag aan jou is: wil jy lewe vir jouself, net na jouself omsien en selfsugtig sterwe of wil jy lewe vir God en ‘n verkil maak in hierdie wêreld?

Indien jy graag ‘n verskil wil maak sê dit dan nou vir God, sê vir God dat jy jou lewe neerlê as ‘n lewendige en heilige offer vir Hom en dat Hy jou en dit wat jy besit moet gebruik om eer aan Hom te bring. Gaan dan uit en kyk waar jy ‘n verskil kan maak!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s