Deur Jonanda Burger
Eph 1:17-19: “bid ek dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid gee en Hom aan julle so openbaar dat julle Hom werklik kan ken, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is.”
Hoe sien jy God?
Jou siening van God en Sy betrokkenheid in jou lewe beïnvloed elke aspek van wie jy is. Elke deel van jou lewe – begeertes, motiewe, houdings, woorde en aksies – word beïnvloed deur jou persepsie van wie God is. Elke probleem wat ek en jy ervaar kan direk gekoppel word aan ‘n onakkurate siening wat ons van God het.
Vind jy dat jy twyfel aan God se goedheid vir jou wanneer jy in ‘n moeilike situasie is? Word jy maklik frustreer deur negatiewe omstandighede? Is dit vir jou moeilik om God te vertrou met die uitdagings in jou lewe? Voel jy soms God is nie goed genoeg nie. As Hy was sou Hy …. Voel jy God het jou nie werklik lief nie? Dink jy soms God is nes jou pa? Dink jy dat God nie werklik genoeg is nie?
Is dit moontlik dat jy ‘n verkeerde persepsie van God het?
Sommige mense sien God as ‘n genadelose diktator ander sien God as ‘n Goddelike Kersfees Vader. Baie mense vrees God omdat hulle ‘n verwronge beeld het van God se karakter.
Elkeen van ons kyk na God, die lewe en ons self deur ons eie bril – ons eie persepsie. Alles wat met ons gebeur, ons lewenservarings, maak merke op ons bril – vorm ons persepsie- wat veroorsaak dat ons nie die ware beeld van God, die lewe en ons self kan sien nie.
Wat is die uitkoms as ons ‘n korrekte beeld van God kry?
Dit beteken nie dat jy nooit weer probleme sal ervaar nie maar as jy God werklik ken vir wie Hy is sal jy in oorwinning in elke situasie begin leef. Jy sal waarlik God se liefde vir jou beleef en Hom ten volle vertrou. Jou selfbeeld sal verbeter as jy besef hoe groot en wonderlik God is en hoe waardevol jy vir Hom is. Hoe nader jou siening van wie God is en Sy betrokkenheid in jou lewe aan die waarheid is, hoe meer sal jy meer gemotiveerd raak om uitblink in jou tyd, talente en vermoëns.
Kan my verkeerde siening van God reg gestel word?
Ons kan slegs verander en vernuwe word tot die graad wat ons beeld van God verbeter en vernuwe word. Ons kan nie ons self verander nie (ek het al baie probeer). Dit is ‘n saak van oorsaak en gevolg. ‘n Verkeerde siening van God is die siekte en ons probleme is die simptome. God wil ons gedagtes oor Hom vernuwe sodat ons werklik ook nuut kan lewe (Rom 12:2).
God wil nie net hê dat ons Hom korrek moet sien en verstaan nie maar ook dat ons Hom intiem moet ken. Hoe meer ons op God fokus en wie Hy werklik is hoe meer word ons verander. Hoe meer ons op ons self fokus en probeer om ons self te verander hoe meer frustreer en oorwonne word ons.
Ons kan ‘n nuwe en korrekte siening van God kry. So hoe begin ons om God werklik te leer ken? Dit gebeur nie net oornag nie, dit is ‘n lewenslange reis vol opwinding. En ons moet begin deur die leuens wat ons oor God glo te identifiseer en dit dan deur die waarheid te vervang. Ons grootste bron vir die waarheid oor God is die Bybel want daar openbaar Hy homself en Sy ware karakter.
So hou op om na jou omstandighede te kyk om God te verduidelik en begin kyk na die Bybel en hou daaraan vas maak nie saak want gebeur.
Stap saam met my die pad om oor die volgende paar maande God intiem te leer ken.