INTIMITEIT VLAKKE VAN DIE HUWELIK

God het die huwelik geskape sodat dit goed, opwindend en selfs bevredigend kan wees. een van die deurslaggewende dinge vir langtermyn bevrediging vir die huwelik is dat getroudes oor die jare leer om die rykdom van die verskillende fasette van intimiteit te ontdek en te ontwikkel.

Carla en Wian sukkel al vir ‘n lang tyd om hulle huwelik regtig te laat slaag. Vir die afgelope jaar sien hulle gereeld ‘n huweliksterapeut wat probeer om hulle te help om beter met mekaar te kommunikeer, maar dit gaan maar sukkel – sukkel. Dit voel of al wat hulle regkry, net is om meer te baklei. Hoe meer hulle praat, hoe meer konflik is daar.

Die afgelope Kersvakansie het hulle egter nogal ‘n buitengewone en hoopvolle ervaring gehad. Die tuindienste wat hulle gras elke week kom sny, het vir drie weke oor Kersfees toegemaak. Met die baie reën het alles so gegroei dat Wian net na Kersfees besef het hy sal maar net eenvoudig hierdie grasperk moet sny. Hy leen toe sy buurman se grassnyer en begin sny.

Baie gou kom hy agter dat dit nie werk om hierdie lang, sappige gras in die grasbak op te vang nie, elke 30 sekondes is die bak vol en dit vat net te lank. Hy haal toe die grasbak af en laat die afgesnyde gras op grasperk bly lê. Carla en hulle twee kindertjies was baie geïnteresseerd in Pappa wat skielik vandag gras sny, en hulle begin toe om die gras wat so op die grasperk lê, bymekaar te maak en solank in die sleepwa te gooi. Hierdie saamwerk was so lekker dat hulle op die ingewing van oomblik toe sommer die struike ook mooi snoei en ‘n klompie takke wat te laag hang in die voortuin afsaag. Later ry hulle almal saam na die stortingsterrein en gaan gooi die gras en takke weg.

Toe hulle huweliksterapeut na die vakansie terug is en Wian en Carla weer by hom aanmeld om met hulle terapie aan te gaan, vertel hulle vir hom hierdie storie. "Ons het nooit geweet dat ons so lekker en goed kan saamwerk nie. Ons sukkel nou wel om met mekaar te praat, maar ons kan darem lekker saamwerk. Dit is iets wat ons meer sal wil doen."

Howard en Charlotte Clinebell het in hulle boek "The Intimate Marriage" (1970) 12 verskillende fasette van intimiteit onderskei:

Seksuele intimiteit gaan oor die verskillende fasette van die erotiese aantrekkingskrag tussen man en vrou.

Emosionele intimiteit is om julle gevoelens en belewenisse met mekaar te deel, om op mekaar se emosionele golflengte ingestel te wees.

Intellektuele intimiteit beteken om sake te bespreek, om menings en opinies uit te ruil. Dit gaan oor nabyheid in die wêreld van idees.

Estetiese intimiteit is wanneer ‘n egpaar saam iets geniet wat vir hulle mooi is. Dit maak nie saak of dit ‘n sonsondergang of ‘n fliek of ‘n stuk musiek is nie.

Kreatiewe intimiteit beteken om saam iets te skep. Dit kan ‘n kunswerk wees, maar meestal is dit dinge soos om ‘n kamer te versier, om die tuin te beplan of om ‘n lekker ete te maak.

Intimiteit in ontspanning is die vreugde om saam te speel, pret te hê, sport te beoefen, of net af te wen na ‘n harde week of dag.

Werks-intimiteit is wanneer getroudes saam ‘n stuk werk doen. Wian en Carla se verrassing het daaroor gegaan dat hulle ontdek het hoe lekker dit is om saam te werk.

Krisis intimiteit is nie iets wat mens bewustelik soek nie, maar wat tog ‘n huwelik beter en ryker kan maak. Wanneer getroudes saam ‘n krisis moet hanteer, kan dit daartoe lei dat hulle mekaar op nuwe en dieper maniere leer ken en ervaar, wat hulle kan help om te groei.

Die idee van konflik intimiteit is dalk ‘n verrassing. Tog is konflik wat reg hanteer is, een van die belangrikste maniere waarop ‘n huwelik groei. In konflik hoor ons dikwels vir die eerste keer regtig wat dit is wat my maat pla of wat hy/sy regtig wil hê uit die huwelik. Konflik bring intensiteit in die huweliksverhouding.

Verbintenis intimiteit gaan daaroor dat ons weet: ons is aan mekaar verbind. Veral in moeilike tye bring die sekerheid van ‘n vaste verbintenis ‘n dimensie van die huwelik na vore wat mens moeilik op ‘n ander plek kan kry.

Geestelike intimiteit beteken om saam die Here te dien, saam te bid, saam Bybel te lees en kerk toe te gaan. Vir gelowiges is dit ‘n besondere vreugde om die groot Ontmoeting met mekaar te deel.

Kommunikasie intimiteit gaan daaroor dat ons ons lewens, ons stories en harte met mekaar deel. Omdat dit so ‘n deurslaggewende faset van ‘n intieme huwelik is, dink baie mense dit is die enigste. Gelukkig is dit nie. Tog is dit wel so dat goeie kommunikasie op ‘n intieme vlak regtig baie belangrik is vir ‘n bevredigende huwelik, en is dit die moeite werd om goeie tyd en aandag hieraan te gee.

Hierdie lys van die Clinebells herinner ons daaraan dat ‘n goeie huwelik en bevredigende intimiteit oor meer gaan as om met mekaar te gesels en om seks te hê. Die beste huwelike is dié waar huweliksmaats ‘n hele verskeidenheid van intimiteite beoefen, en mekaar op verskillende maniere ken en geniet. Getroudes sal seker ook hulle eie fasette van intimiteit kon byvoeg volgens hulle eie verhale. Ek mis byvoorbeeld in hierdie lys die intimiteit van ouerskap.

In die narratiewe benadering praat ons van dikker en ryker beskrywings van die self, wat beteken dat ‘n persoon hom/haarself nie op ‘n eendimensionele manier verstaan en beskryf nie maar die rykdom van jou eie menswees sal raaksien, waardeer en benut. In die huwelik beteken dit dat ons sal raaksien dat daar ‘n hele klomp verskillende fasette van nabyheid in ons huwelik is (of tevore was) en dat ons dit weer sal optel en waardeer. Huwelike wat lank hou en oor die lang duur bevredigend is, is gewoonlik daarop ingestel om hierdie rykdom van die verskillende fasette van intimiteit te geniet en te ontwikkel.

So, komaan! Bespreek bietjie hierdie lys met jou man of vrou. Wat in julle huwelik is vir julle goed en geniet julle? Wat het julle te lanklaas gedoen en gedeel? En watter dimensies van nabyheid sal julle wil ontwikkel? Daar is waarskynlik ‘n hele klomp dimensies van nabyheid waarvan julle al vergeet het of wat julle nog nooit probeer het nie. Soek bietjie weer die dinge op wat julle huwelik ryker en beter en meer bevredigend kan maak.

Bron:

http://www.luxmundi.org.za/index.php?option=com_content&task=view&id=228&Itemid=165

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s