Deur Jonanda Burger
Wanneer mens die verskillende stukke in 1Kor12:27; Rom 12:5 en Ef 4:12 lees oor “In Christus- baie lede maar een Liggaam” is dit baie duidelik hoe ons as Christene elkeen kosbaar is, sekere gawes, vermoëns en take het om te verrig in die Koninkryk van God, dat ons mekaar nodig het om God se wil hier op aarde te bereik en dat ons in eenheid moet saam werk en leef. Dit is werklik ‘n kragtige waarheid.
Maar toe ek weer elkeen van hierdie stukke gaan deur lees vir die voorbereiding van Wêreld biddag vir vroue het die Heilige Gees vir my iets helemaal nuuts oopgebreek. In so ‘n opsig dat ek vir myself moes afvra….
Van al die voorbeelde wat Paulus kon gebruik om die lewe en doel van ‘n Christen te verduidelik, het die Heilige Gees Paulus geïnspireer om Jesus se liggaam as voorbeeld te gebruik.
Behalwe dat ons Jesus se werk hier op aarde moet voortsit, het jy al ooit gewonder hoekom juis Jesus se eie liggaam? Hoekom nie die liggaam van ‘n donkie (wat ‘n kosbare kommodityd in daardie tyd was) of self ‘n donkiekar nie? Of net ‘n liggaam. Dit sou dieselfde boodskap kon oordra.
Maar nee, Paulus sê ek en jy is Jesus Christus se liggaam. Hoe dink jy behandel Jesus Sy eie liggaam. Ek sou sê:
· Jesus Christus is lief vir Sy eie liggaam: Hy is goed en pas Sy eie liggaam op. Hy wil Sy eie liggaam koester.
· Jesus ken Sy eie liggaam ten volle en weet wat dit nodig het.
· Hy wil ‘n gesonde liggaam hê: elke orgaan en lid heel, lewendig en funksioneer ten volle.
· Jesus Christus soek ‘n liggaam wat funksioneer soos dit moet – elke orgaan en lid moet doen wat dit geskape was om te doen. ‘n Liggaam wat ten volle lewendig is!
Omdat ek en jy Jesus Christus se liggaam is, is dit wat Hy ook vir ons soek:
Christus is vir jou lief soos Hy Homself lief het:
Hy wil in ‘n persoonlike en intieme verhouding met jou staan en Hy wil sy liefde oorvloedig op jou uit stort. Hy wil jou koester as jy alleen voel en versorg as jy hulp nodig het. Bowenal wil God hê dat jy oortuig moet wees van Sy liefde vir jou. Self in die moeilike tye. Hierdie liefde moet nie net kop kennis wees nie maar ‘n werklikheid, deel van jou.
Hierdie oortuiging van God se onvoorwaardelike en volmaakte liefde vir ons kom slegs as ons honger is daarvoor en die Heilige Gees vra om dit so aan ons te openbaar. Dan bly dit nie net kop kennis nie maar kom leef ook in ons harte.
Het jy Hom dit al gevra? Hoekom nie? Hoor wat se God oor jou:
Jer 3:14: Ek het gesê: Hoe graag wil Ek jou ‘n seun van My maak en aan jou ‘n lieflike land gee, ‘n besitting liefliker as enigiets wat enige nasie het. Ek het gesê: Noem My "Vader", en moet nooit weer van My af wegdraai nie.
Jesus ken jou ten volle en weet wat jy nodig het:
Jy is Sy liggaam en Hy wil die goeie wat jy nodig het vir jou gee. Jesus sal en wil nie vir jou gemors kos gee wat jou gaan siek maak en terug hou in die lewe nie. Nee, Hy wil vir jou die gesonde, sappige, goeie voedsel gee wat jy nodig het sodat jy ten volle kan funksioneer en werklik lewendig kan wees.
Christus weet wat jy nodig het en sal nie die goeie van jou weerhou nie maar ook nie die onnodige wat sleg is vir jou gee nie. Ons mag nie altyd verstaan hoekom Hy nie altyd vir ons alles gee wat ons dink ons nodig het en van Hom vra nie maar ons moet kies om op Hom te vertrou. Ons moet oortuig wees van Sy goedheid en dat Hy ons beste belang op die hart dra want dit is wat God in Sy Woord belowe.
Twyfel jy ooit aan God se goedheid vir jou? Mat 7:11: As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?
Vra God om jou te help om Hom volkome te vertrou.
Hy wil hê dat jy siel, liggaam en gees gesond moet wees:
Jy sien, alhoewel God wil hê dat jy jou rol in die liggaam van Christus ten volle moet uitleef weet Hy ook dat ‘n siek, beskadigde lid van die liggaam nie so effektief is soos ‘n gesonde, lewendige lid nie. Dit is baie moeilik om weg te gee wat jy nie het nie. En as jy jou rol in Jesus se liggaam ten volle wil uit leef, sal dit soveel makliker en in uitnemendheid gebeur as jy gesond is.
Dink aan ‘n sprint atleet met ‘n gebreekte been. As die been gesond is kan sy werklik ten volle haar doel bereik.
Sommige van ons hier vandag is nie helemaal gesond nie. Gebeure in die verlede het ons stukkend en seer gelaat. Oorweldig deur pyn en teleurstelling, angs en bekommernis, kwaad en bitterheid. Ons gedagtes oor ons self is besoedel deur die wêreld se siening van wat goed en aanvaarbaar is. Ons siening van God en wie Hy werklik is, is deurdrenk van die leuens wat gesagsfigure aan ons Gods figuur gedoen het.
Maar om met seer en bindings te loop is nie Vader God se plan vir jou nie. Alhoewel swaar tye nie vry gespring kan word in hierdie lewe nie is dit nie God se wil dat ons met die seer en letsels daarvan moet rond loop nie. Dit hou ons kruppel en oneffektief om ten volle bruikbaar in Sy hande te wees.
Ps 86:15: Maar U, Here, is ‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou. God het medelye met jou seer. Hy treur saam met jou oor dit wat jou seer maak.
Mat 4:23-24: Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. En berigte oor Hom het deur die hele provinsie Sirië versprei. Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak.
Jesus wil jou revive– lewendig maak, lewe blaas in elke dooie deel van jou lewe, jou gedagtes, jou emosies, jou drome, jou optrede, jou liggaam, jou verhoudings….in elke dooie area wil Jesus herlewing bring, wil Hy sy lewegewende asem in blaas sodat jy alles kan wees wat God jou geskape het om te wees – ten volle! God wil dit wat dood is in jou lewe, lewendig maak!
Jer 17: 14: Maak Ú my gesond, Here, dan sal ek gesond wees! Bevry Ú my, dan sal ek vry wees! Dit is vir U wat ek wil loof.
Jesus Christus het ‘n doel met jou lewe:
Finale genesing is dan wanneer ons wegdraai van ons eie seer, ander se behoeftes begin raak sien en sodoende ons skeppings doel binne die liggaam van Christus begin uitleef.
2Kor 4:7: Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.
Elke vrou wat vandag hier sit is ‘n skatkis. Jy is ‘n skatkis. God het skatte in jou geplaas. Hy het jou geskape met ‘n doel voor oë, jy is nie toevallig of per toeval hier nie. God wil hê jy moet hier wees omdat Hy in ‘n persoonlike verhouding met jou wil wees en Hy ‘n plan met jou lewe het.
Binne in jou is wonderlike dinge opgesluit en God wil dit oop sluit. Hy weet wat se drome, vermoëns en gawes Hy in jou geplaas het. Hy weet hoe om dit aan te raak en dit uit te bring. Binne in jou dra jy skatte wat jy kan gebruik om God se doel met jou lewe te bereik en in die proses sal jy eer aan God se Naam bring.
Wanneer jy verby jou seer, lae-selfbeeld, verkeerde beeld van God en vergelyking met ander is, is jy in ‘n posisie vir God om alles ten voorskyn te bring wat Hy jou geskape het om te wees.
My vriendin vind uit wat se gawes, talente en vermoëns God binne in jou geplaas het want jou skatte is kosbaar in God se diens. Jy moet dit gebruik om Jesus se liggaam op te bou, ander lede gesond te maak, te versterk, te bemoedig en op te rig want as een lid in die liggaam swaar kry, kry die hele liggaam swaar. Vêrder, jy moet die wat nog nie deel is van die Liggaam deel maak daarvan.
Wil jy net oorleef of werklik leef. Wil jy alles besit wat jy kan maar wanneer jy sterf het jou lewe nie werklik iets beteken nie?
Of jy swart of wit, jonk of oud, arm of ryk is – solank as wat jy nog asem haal het God nog ‘n doel met jou en wil Hy jou hier op aarde gebruik. Sal jy Hom toelaat?
Ek wil jou aanmoedig, lê jou verlede en seer voor God neer sodat jy ten volle gesond kan wees om ten volle te kan funksioneer in die liggaam van Christus en ‘n Goddelike nalatenskap agterlaat, een wat dalk generasies kan beïnvloed!