Deur Jonanda Burger
Verwagtings is so ’n belangrike aspek om ’n lewe van vreugde en oorwinning te leef. Kyk wat het met die vrou met bloedvloeiing in Mat 9:20-22 se verwagtings gebeur:
“En daar het ‘n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, van agter gekom en die soom van Sy kleed aangeraak. Want sy het by haarself gesê: As ek maar net sy kleed kan aanraak, sal ek gesond word. En Jesus het omgedraai en haar gesien en gesê: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. En die vrou het gesond geword van daardie uur af.”
Ek dink as hierdie vrou nie met ’n verwagting na Jesus toe gekom het nie sou sy nie genees geword het nie. Sy het gehoor van al die dinge wat Jesus gedoen het en geglo dat Hy haar kan genees. Met hierdie verwagting het sy na Jesus gekom en Hy het haar genees.
Net so moet ons ook eerstens weet wie God werklik is, wat Hy in Sy Woord belowe om te doen. Tweedens moet ons dan ’n verwagting in God hê dat Hy Sy beloftes in ons lewens sal bewaarheid. Laastens moet ons dan ons verwagtings aan God bekend maak en glo dat Hy sal doen wat Hy belowe. Want God ontmoed ons op die vlak van ons verwagtings.
Ons moet egter ook leer om tevrede te wees met wat ons het en hoe ons omstandighede tans is terwyl God besig is om dit in ons lewe te bewerstellig wat Hy in Sy Woord belowe. Ps 37:3-4 sê: “Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.”
Ken jy God se beloftes vir jou lewe? Het jy ‘n verwagting in God om jou te verander, in jou omstandighede in te gryp, andwoorde vir jou probleme te bring? Het jy ’n verwagting vir die jaar om nader aan God te leef, meer intiem met Hom te wees, Sy stem beter te hoor, om elke dag meer soos Jesus te word? Het jy ’n verwagting dat God jou seer verlede moet genees en jou vry maak van gebeure in die verlede? Glo my as ek vir jou sê dat God by magte is om meer te doen as wat jy ooit kan voor vra of bid en dat Hy dit ook graag vir jou wil doen.
Ek daag jou uit om jou verwagtings vir die jaar 2009 neer te skryf, ’n belofte uit die Bybel vir elke verwagting lansaan te skryf en jou verwagtings dan voor God te bring en vir Hom te vra om dit te vervul. Ek glo dat jy in verwondering teen die einde van 2009 sal staan want God wil glorie aan Sy Naam bring.
Verdere beloftes van God in die Bybel:
1Kor 2:9: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie en wat by die hart van die mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir die wat Hom liefhet.”
Jer 29:11: “Ek weet wat Ek vir julle beplan se die Here: voorspoed en nie teespoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!”