Lees Mat 23:25-26 en Joh 8:3-11
Kyk hoe drasties verskillend tree Jesus op teenoor die twee verskillende groepe.
1. Wat is ‘n masker?
‘n Masker is iets wat ek dra om die ware ek vir ander weg te steek.
Die VIA Africa Learners Dictonary beskryf die woord ‘mask’ as: “Covering for the face, used as disguise, for protection. Anything used to hide the real nature of something.”
2. Hoekom dra mense maskers?
Ons dra maskers want ons is bang as ons die ware ek vir ander wys hulle nie van ons sal hou nie en ons dan sal verwerp. Baie keer hou ons nie van ons self nie en dink ander sal ook nie van ons hou nie. Ons wil nie die ‘slegte dinge’ in ons lewens vir ander wys nie.
Die media is so vol van hoe die ‘ware, beeldskone, aanloklike, goeie’ en dus ‘perfekte’ persoon moet lyk dat ons dan begin voorgee om hierdie ‘perfekte’ persoon te wees en terselfde tyd verloor ons die ware ek.
3. Hoekom moet maskers afgehaal word?
Die andwoord is drieledig:
Eerstens, wat in ons hart aangaan maak baie saak vir God. Hy is meer geintereseerd oor wat in ons hart aangaan as wat ons sê of doen. 1 Sam 16:7 sê: “Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike maar die Here na die innerlike mens.” Dit is nie ons uiterlike eienskappe wat ons karakter bepaal nie maar dit wat in ons hart aangaan maak saak vir God.
As ons bly voorgee om iets te wees wat ons nie werklik is nie kan ons nooit verander word nie. As ons nie ons eie tekortkominge wil erken nie sal ons nie kan vernader nie. Maar as ons eerlik en opreg na God gaan met ons tekortkoming sal Hy ons gedagtes vernuwe en ons verander (Rom 12:2); Hy sal dan vir ons ‘n nuwe hart gee (Es 11:19). Dit sal ons ook help om voordurend te reflekteer sodat ons weet waaraan gewerk moet word.
Tweedens, Jak 5:16 sê: “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.” Wanneer ons kies om maskers te dra weerhou ons die wonderlike seën wat God vir ons wil gee deur Goddelike familie en omgee vir mekaar. Wanneer ons eerlik is teenoor mekaar kan ons:
l Luister en mekaar bemoedig: net om jou storie te vertel en die probleem in die lig te bring is al klaar genesend. Deur eerlik te wees help jy dus ook ander om hul hart met jou te deel en hulp te kry vir hul eie seer. Nog meer jy kan genesing ontvang deur iemand wat luister en die regte woorde op die regte tyd spreek. Jou mede Christen waarteenoor jy bely kan ‘n spreekbuis vir God word.
l Vir mekaar bid: as ons ons maskers afhaal kan ons opreg vir mekaar bid en gesond word. As ek nooit die ware ek met iemand deel sal ek nooit ware gebedsbedekking ontvang.
l Vir mekaar aanvaarding gee: ‘n plek waar die ware ek aanvaarding kan kry en ek ook onvoorwaardelike aanvaarding vir ander kan gee. As ons net aanvaar word vir die valse persoon wat ons voorgee dan word net die vals persoon eintlik aanvaar en nie die ware ek nie. Die ware ek is dan eintlik ongelooflik eensaam. Aanvaarding skep ‘n klimaat vir verandering.
l Christelik aanspreeklik teenoor mekaar wees: om mekaar verandwoordelik en aanspreeklik te hou vir die veranderings wat moet plaasvind.
Laastens, as ‘n mens ‘n masker dra verloor mens totaal en al wie God ons gemaak het om te wees. Ons verloor ons gawes, talente, passies in die lewe, waarvan ons hou ens. Ons probeer so hard om dit te wees wat die wêreld wil hê ons moet wees dat ons die kosbare skatte wat God in ons geplaas het onderdruk. Sodoende kan ons sonder ‘n doel en passie deur die lewe gaan. Hierdie wêreld het meer mense nodig om te weet wie hul is in Christus, wat se skatte en talente daar in hul is en dan dit passievol uit te lewe tot eer van God. Dit sal maak dat die wêreld ‘n beter plek word.
4. Hoe haal mens maskers af?
Dit is nie iets wat jy op jou eie kan doen nie. Dit is die werk van die Heilige Gees binne in jou.
· Bid en vra God om jou te help. Dit is God se wil dat ons opreg voor Hom moet staan, Hy sal ons ook help om opreg te word (Joh 15:7-8).
· Neem dan ‘n besluit om jou masker af te haal en kies dan om dit te doen deur God se krag binne in jou. Jy mag vrees ervaar maar doen dit al is jy bang, die vrees sal met tyd weggaan.
· Jy moet saam met God werk om jouself in ‘n posisie vir transformasie te plaas.
· Leer om jouself onvoorwaardelik te aanvaar en lief te hê. Bely jou sondes dadelik en vra God om jou te verander. Praat dan positief met jouself in plaas daarvan om jouself aftebreek oor jou foute en sondes.
· Leer om ander onvoorwaardelike te aanvaar. Mat 7:12 sê ons moet doen aan ander wat ons wil hê ander moet aan ons doen.
Onthou Christus het nie gekom om die gesonde mense te help nie maar juis die gebrokenes van hart. Sy genade is genoeg vir jou. Hy is sterk as jy swak is (2 Kor 12:9). Soos God Sy werk in jou voltooi sal jy nie meer ‘n valse beeld van jouself reflekteer nie maar die karakter van Sy Seun. Nou is die tyd om jou masker af te haal want God wil jou karakter vorm en jou identiteit in Hom ontwikkel sodat jy jou roeping kan vervul.
Indien jy graag met ‘n gekwalifiseerde berader wil gesels skakel gerus vir Jonanda Burger by 082 922 5081.