deur Jonanda Burger
Wat is ‘n verbond?
‘n Verbond of testament is ‘n geskrewe ooreenkoms of belofte tussen twee of meer partye wat die uitoefening van sekere aksies waarborg [1].
‘n Verbond druk die fundamentele betekenis van die Ou Testament Hebreeuse woord ‘berit’ en die Nuwe Testament Griekse woord ‘diatheke’. In albei Testamente verwys die woord verbond na ‘n besondere gewigtige verhouding van herstel en vrede wat ‘n periode van versoekings, uitdagings en oordeel volg [2].
Die verbond is ‘n daad van genade deur God om sodoende die mens met Homself te verenig. Die mens se reaksie en antwoord tot God moet egter nie oorgesien en misken word nie [3].
Alle verbonde tussen God en mens in die Bybel is ‘a bond in blood sovereignly administered by God’ – vertaal: ‘n bloed band kragtig deur God beheer [2].
God is die God van die verbond:
God het die mens geskape sodat ons in verhouding met Hom kan wees (Gen 1:26-27). Daarom het Hy verskeie ooreenkomste aangegaan met die mens. Sommige is voorwaardelike verbonde en ander onvoorwaardelik.
Die eerste Skriftelik voorbeeld waar God ‘n verbond met die mens aangegaan het is met Noag in Gen 6:18. God belowe om Noag en sy familie te spaar van die vloede. Hierdie verbond is hoofsaaklik ‘n bewys van God se genade.
Vêrder lees ons ook in Gen 17 van die verbond wat God gesluit het met Abraham. God se beloftes het die voorwaarde van Abraham se gehoorsaamheid.
Nog ‘n voorbeeld waar God ‘n verbond met die mens gesluit het is in 2Sam 7:14-17 met Dawid.
Dan lees ons in Eks 19: 5-8 dat God ‘n verbond sluit met die volk Israel. Moses tree as die middelaar op. Hierdie is ‘n voorwaardelike verbond. Die volk moet God gehoorsaam en aan Sy bepalings leef. Die voorwaardes van die verbond word in die res van Eksodus asook Deuteronomium uit een gesit. Israel aanvaar hierdie aanbod min wetend dat hul nie die voorwaardes van die verbond kan na kom nie as gevolg van hul sondige natuur. Israel verbreek dus hierdie verbond met God.
Nuwe Verbond:
Jer 31:31-34 profeteer oor ‘n Nuwe Verbond. Hoekom is dit nuut? Die Nuwe Testament gebruik twee woorde vir nuut. Neos beteken nuut in kontras met oud. Kainos beteken nuut in die sin van uniek. Dus die nuwe verbond is nuut in kontras met die oue asook uniek en beter as die ou verbond.
Lees ook: Jer 32:33-40; Luk 22:20; 2Kor3:6; Heb 8:8; Heb 9:15
Hoe is die Nuwe Verbond uniek en beter as die Ou Verbond:
Verandering van die menslike natuur: Deur die Nuwe Verbond vind internalisering van die Wet van God plaas. Israel het nie die hart of die natuur gehad om God te gehoorsaam nie. Die Ou Verbond het geen voorsiening gemaak vir innerlike motivering om God te gehoorsaam nie. In die Nuwe Verbond belowe God om Sy wette op ons harte en ons gedagtes te skryf.
Wat beteken dit? Soos Dawid sê in Ps 40:8: “Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe.” Dit is nie ‘n menslike reaksie om mens self in die wil/wet van God te verbly nie asook nie te sien as die een begeerte van ons harte nie (Rom 8:7). Die Nuwe Verbond belowe krag om God te gehoorsaam. Hoe? Deur die inwonende krag van die Heilige Gees (Rom 8:1-4, 9). Hierdie is ‘n unieke kenmerk van die Nuwe Verbond.
Die fundamentele basis van die Nuwe Verbond is die bekerings/veranderings proses. God bekragtig die Nuwe Verbond deur die sterwe van Jesus Christus aan die kruis. Wanneer ons Jesus aanneem as ons Verlosser kom hierdie verbond en bekering tot werking in ons lewe.
In die Nuwe Verbond skryf God self Sy wette op ons harte en gedagtes en gee ons die begeerte en krag om getrou en gehoorsaam te wees. Deur die transformerende krag van die Heilige Gees help God ons om Sy wette te internaliseer. Dus, die nuwe verhouding met God is innerlik van aard en nie die uiterlike nakoming van wette nie.
Maar bekering sit nie die brein op ‘auto pilot’ nie. Dit is ook nie soos ‘n skielike brein oorplanting nie. Dit is ‘n daaglikse proses (2Kor4:16) van die vernuwing van gedagtes (Rom 12:2). Christus kry in ons gestalte (Gal 3:19) soos God ons gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer (Fil 2:13). Hierdie verandering in ons natuur gee aanleiding tot ‘n intieme verhouding met God (Heb 8:10).
Vergewing van sondes: Die vergewing van ons sondes wat ook noodsaaklik is in ons verhouding met God (Jes 59:1-2) is ‘n vêrdere unieke voordeel van die Nuwe Verbond (Heb 8:12). Die bloed van bulle en bokke kan nie sondes weg neem nie (Heb 10:4). Jesus se bloed het vir ons gevloei en sodoende vir ons sondes betaal en dus ons sondes weg gevat (Mat 26:27-28).
Ewige lewe: Die ewige lewe is ‘n derde en beter belofte wat in die Nuwe Verbond belowe word (Heb 9:11-15). Die ewige lewe is ‘n ewig durende verhouding met God (Joh17:3). Watter betekenis sal die ewige lewe hê sonder God? Dus die Nuwe Verbond belowe dat ons na die dood vir ewig in God se teenwoordigheid sal wees, Sy liefde vir ons volkome ervaar, nie meer hartseer en pyn beleef en in perfektheid leef saam God.
Kind van God: Die Ou Verbond belowe dat ons God se volk sal wees as ons gehoorsaam is aan Hom. Die Nuwe Verbond belowe dat wanneer ons Jesus as ons Verlosser aanneem ons God se kinders word (Joh 1:12). Deur die Nuwe Verbond is ons ook nou erfgename van God saam met Jesus Christus (Rom 8:16-19). Die Nuwe Verbond is dus uniek en beter as die Ou Verbond omdat ons beweeg van ondergeskiktes, dienaars en volk na God se kind, erfgenaam en broers en susters van Jesus Christus.
Nuwe identiteit in Jesus Christus: Deur die Nuwe Verbond hoef ons ook nie ons aanvaarding, waarde en veiligheid in die wêreld te vind nie. Ons leer in die Nuwe Testament dat ons ‘n nuwe identiteit in Jesus Christus het en dat al ons behoeftes bevredig en vervul is in Jesus. Ons kan nou ‘n goeie selfbeeld in Hom hê.
Notas:
1. Webster’s 9th New Collegiate
2. Hierdie definisie van verbond is van O. Palmer Robertson se boek The Christ of the Covenants. Dit het ‘n aanvaarbare definisie onder geleerdes geword.
3. Smith’s Bible Dictionary