Deur Riaan Pienaar van e-kerk
Esther voel dat haar man nie in haar persoonlike en emosionele behoeftes voorsien soos wat sy gedink het gaan gebeur in die huwelik nie.
Sy wil graag haar man sover kry om in haar behoeftes te voldoen. Sy begin nou om tegnieke te gebruik wat instinktief kom. Tegnieke wat ons almal dink gaan help en van tyd tot tyd gebruik.
Daar is ‘n lekker Engelse woord vir die subtiele stryd wat nou ontstaan. Die “power struggle”. Dit is stryd om my huweliksmaat te verander dat hy moet wees soos ek hom wil hê. Hierdie gedrag kom onbewustelik.
Ons begin eers neul of kerm oor goed wat ons graag wil hê ons maats moet anders doen. Ons begin ook gebruik maak van kritiek.
Wanneer ons sien dat kritiek nie werk nie dan begin ons gebruik maak van afkoopgedrag.
Afkoopgedrag is die stel van voorwaardes: “As jy dit doen dan sal ek dit doen.”
Dan begin ons met dreigemente en later begin ons maats te straf.
Die punt is natuurlik dat geen van hierdie tegnieke enige verandering teweeg bring in ons maats nie en hulle wel eerder miskien wegstoot. Niemand het nog ooit verander as gevolg van sulke gedrag nie.
Jou maat probeer om uit jou pad te bly.
Wanneer jy dus graag wil hê iets moet verander. Beskryf dit as ‘n optrede wat jy graag verander wil hê. Moet dus nie jou maat se persoonlikheid of karaktertrek beskryf nie: “Ek wens jy wil meer liefdevol wees.” Beskryf eerder wat jy gedoen wil hê aan jouself as ‘n bewys van liefde. Vra dus vir ‘n verandering van gedrag.
Kom ons neem nog ‘n voorbeeld. Moenie sê: “Ek wens jy wil minder slordig wees.” Dit is ‘n persoonlikheidseienskap. Party mense se slordig en netheid verskil van ander mense. Nee beskryf eerder net die gedrag wat jy verander wil hê. Sê vir hom: “Die handdoek lê nog op die vloer, sal jy dit in die mandjie gooi.”
Miskien glimlag jy nou meewarig en dink by jouself dat dit sal nie gebeur nie. Waarskynlik nie. Miskien gebeur dit wel wanneer jy dreigemente gebruik, maar stelselmatig dryf julle egter van mekaar weg en moet jy jou tegnieke verskerp om veranderde gedrag te kry.
Onthou eerder om volgende keer gebruik te maak van ‘n kompliment indien dinge gebeur soos jy daarvan hou.
Dankie vir die wasgoed wat jy ingegooi het. Dankie vir die skottelgoed wat jy gewas het .
Bestudeer jou maat en kyk na die dinge wat hy vir jou doen en maak opmerkings daaroor en spreek jou dank uit. Kortom skep ‘n atmosfeer van waardering.
Dan gaan jou versoeke om gedragsverandering nie op dooie ore val nie.
Indien jy probleme ervaar in jou huwelik en graag met iemand wil gesels kan jy Jonanda Burger, ’n Christelike Berader by 082 922 5081 skakel.