Deur Jonanda Burger
Lees Gal 5:16-18
As Christen weet ons dat God van ons verwag om gehoorsaam aan Sy wette te lewe. Tog sukkel ons so om die sondes in ons lewe te oorwin. Vers 16 is ‘n belofte dat wanneer jy jou lewe deur die Gees van God laat beheer dan sal jy nie swig voor jou sondige begeertes nie. Dit is ‘n wonderlike en kragtige belofte maar wat beteken dit om deur die Gees beheer te word? Hoekom is dit belangrik om deur die Gees beheer te word? Hoe kry ek dit reg om my lewe te laat beheer deur die Gees?
Voordat ons hierdie vra beantwoord is dit belangrik om eers te verstaan wat bedoel word met die sondige natuur. Wanneer ons die Bybel bestudeer kan mens sien dat daar na die sondige natuur ook verwys word as die werke van die vlees of die vlees. Dit is alles wat teenoor die werke en wil van die Heilige Gees staan.
Die amplified Bybel beskryf die sondige natuur as begeertes en drange en die menslike natuur sonder God.
John Piper beskryf die vlees as die ego van die mens wat behoeftes het (leegheid / leemte binne in self) en wat alle moontlike hulpbronne en kragte tot sy/haar beskikking buite / behalwe God gebruik om hierdie behoeftes te bevredig. Hy sê dit is die bewustheid van diepe begeertes en die idee om na God te gaan vir hulp of op Hom te vertrou om die begeerte te vervul, te verafsku en daarom die behoeftes deur eie kragte en hulpbronne te vervul.
Wat beteken dit dat jou lewe deur die Heilige Gees beheer word?
Dit beteken dat jy jou eie wil en begeertes neer lê en toelaat dat die Heilige Gees jou lei in wat reg en verkeerd is. Die Geesvervulde lewe is een wat gelei word deur die Heilige Gees en waarin jy die Gees volg. As die Gees ons lei sal ons nie oorgee aan sondige begeertes nie (v16).
Dit beteken ook dat jy die vrug van die Heilige Gees in jou lewe dra (v22). Dus lewe jy nie meer in sonde nie maar in gehoorsaamheid aan God.
Maar dit is egter baie belangrik om te besef dat om die Christelike lewe te leef, het mens die bo natuurlike krag van God nodig. Ons kan dit nie deur ons eie krag lewe nie. Die Geesvervulde lewe is soos om ‘n wae aan ‘n stoomtrein te wees. Ons word getrek deur die stoomtrein op die spore om die wil van God te doen.
Om deur die Gees van God beheer te word is dus die werk van God. Maar vir hierdie werk om plaas te vind moet ons dit BAIE graag wil hê. Ons eie wil hierin is baie belangrik. God sal nooit iets doen wat ons nie wil hê Hy moet doen nie – God forseer nooit sy wil af op ons nie! Ons moet dus verlang en smag daarna om deur die Heilige Gees beheer te word en nie deur ons sondige begeertes nie. Ons moet die sonde haat.
Hoekom is dit belangrik om deur die Heilige Gees beheer te word?
Ons leer uit vers 17 dat ons sondige natuur in oorlog is met wat die Gees wil hê. Dus ervaar alle Christene konflik van binne af. Christene is nie mense wat geen verkeerde begeertes beleef nie. Maar ‘n Christen is ‘n persoon wat deur die Gees in oorlog is met daardie begeertes (John Piper). As Christen moet jy dus leer om daardie begeertes te haat.
Maar as jy jou deur die Heilige Gees laat lei dan sal jy nie die begeertes van jou sondige natuur bevredig nie (v16). Hierdie is ‘n belofte. Dus as die Heilige Gees ons lei en beheer dan sal ons die sondige begeertes in ons lewe oorwin en nie toelaat dat dit ons beheer nie.
Tweedens, volgens vers 18, wanneer ons toe laat dat die Heilige Gees ons lewe beheer dan staan ons nie meer onder die wet nie. Dit beteken egter nie ons hoef nie die wet na te kom nie maar dat ons die krag van die Heilige Gees het om die wet na te kom. Dit kan soos volg voorgestel word: wanneer die Gees ons lewe beheer is gehoorsaamheid aan die wet soos om getrek te word deur hierdie stoom trein op die spore. Dit gebeur maklik. Maar wanneer ons dit deur ons eie krag die wet probeer na kom is dit soos om ‘n lang leer te klim. Dit is baie moeiliker en amper onmoontlik.
Wanneer ons lewe deur die Gees van God beheer word, word die leegheid binne in ons wat al die begeertes veroorsaak, opgevul met die Heilige Gees, wat dan vrugte produseer.
Hoe kry ek dit reg dat die Heilige Gees my lewe beheer?
Deur my hart gelukkig, tevrede en vredevol in God te hou. Dit gebeur deur geloof en vertroue in God se beloftes vir ons.
Kyk na die volgende verse:
Gal 5:6: “In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.”
Gal 3:23-24: “Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word.”
Gal 3:5: “Hy wat julle met die Heilige Gees toerus en kragtig onder julle werk, doen Hy dit omdat julle die wet onderhou of omdat julle die evangelie glo?”
Gal 2:20: “en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”
Ons moet in plaas daarvan om ons eie sondige begeertes te bevredig glo in die beloftes van God om ryklik aan elkeen van ons behoeftes te voldoen. Dit is wanneer ons kies om te glo dat ons nuut is en die Gees ons krag gee om ons sondige begeertes te oorkom in plaas daarvan om ons oor te gee aan ons begeertes en dit self te bevredig. Kom ek verduidelik dit met ‘n voorbeeld: ek gaan deur ‘n stresvolle tyd, eks gejaag en voel ek kan almal wat voor my kom verskeur, ek voel bang en onveilig, ek het ‘n behoefte om te ooreet om veilig te voel en te ontvlug. Om volgens die vlees te wandel sal ek oorgee aan die sondige begeertes en doen wat my behoeftes is. Maar wanneer ek toelaat dat die Gees my beheer sal ek glo in die beloftes van God vir my situasie soos byvoorbeeld dat God vir my voorspoed beplan en nie teëspoed nie, ‘n toekoms en ‘n verwagting. Dat ek niks hoef te vrees nie want God is by my en sal my nooit verlaat nie. God sal aan my oorwinning gee. Dit help my om rus, vrede en vreugde in God te vind.
Dus, wanneer ek deur die Gees gelei word kies ek om op God te vertrou. Ek kyk met Geestelike oë na my situasie en nie met vleeslike gevoelens nie. Dan word my behoeftes deur die Gees vervul en ek het geen begeerte om oor te gee aan my sondige drange nie.
Wanneer ek kies om bg. te doen hou ek my hart gelukkig en tevrede in God. Ons wandel volgens die Gees wanneer ons harte in die beloftes van God rus. En ons harte rus in God wanneer ons ‘n lewe van geloof in God en Sy beloftes lewe.
Om dus in die Gees te wandel is om die geveg van geloof te veg en die beloftes van God voor ons oë te hou. Dit is om met geestelike oë na elke situasie, uitdaging en behoefte te kyk en nie met vleeslike oë en gevoelens op te tree nie. Maar geloof kan net kom deur die Woord van God aan te hoor (Rom 10:17) en as ons dus volgens die Gees wil wandel moet ons mediteer op die Woord van God.
George Muller verklaar dat die nommer een ding waaraan hy elke dag eerste aandag gee is nie om God se werk te doen of Hom te verheerlik nie maar om homself eers te kry dat sy siel, innerlike mens, gelukkig en tevrede is in die Here. Dit is hoe mens toe laat dat die Gees jou lei: om jou hart gelukkig te kry in God.
Opsomming:
· Erken dat jy nie sonder die Heilige Gees in oorwinning kan leef nie.
· Vra God voortduring om jou te help om deur die Gees beheer te word.
· Glo en vertrou in God om dit ook te doen.
· Tree dan op of dit al so is.
· Dank die Heilige Gees voortdurend dat Hy jou help om jou sondige natuur te oorkom.