Lees Ef 5:21-31
God behoort DIE groot Faktor in elke huwelik te wees. Veral as die liefde in huwelike geblus begin word en die vlam van liefde net nie meer hoog brand nie.
U ken dit tog almal. U wat getroud is, u wat reeds geskei is en diegene wie se Pa en Ma oor jare alreeds ongelukkig is. Dit is deesdae amper asof mense eerder verbaas en skepties is oor mense wat gelukkig getroud is. Mense neem soms so ‘n wag en sien houding in.
Watter rol behoort die Here regtig in ‘n huwelik te speel.
Die VENNOOTSKAP met God gee sekuriteit!
Die Here wil baie meer in ons lewe beteken as wat ons dink.
Die huwelik moet nie net ‘n saak tussen mens en mens wees nie. Dit is nie net ’n ooreenkoms wat tussen twee mense aangegaan word nie. Regdeur die Bybel, sal u altyd hoor en sien, dat God gedurigdeur betrek word. Daarom, as jy die dag trou, is God betrokke en beskikbaar. God gee immers man en vrou vir mekaar.
Die een manier om die onuitblusbaarheid van die liefdes energie te beleef, is om die DERDE VENNOOT of HOOGSTE AANDEELHOUER te vertrou en voluit vir mekaar binne die vennootskap met God te leef.
Die LIEFDE van God is die bron van energie!
Soms kry ‘n mens die idee dat Christenskap net voor die huwelik ‘n rol speel. Voor die huwelik, hier by die kys fase en sleep fase, is dit belangrik vir die man of die meisie om ‘n christen maat te kan hê.
Mettertyd verdwyn die belangrikheid hiervan, en verander die paartjie binne die huwelik, in iets afskuwelik. Waar daar eens op Christelike waardes en christelike liefde gefunksioneer is, word dit ‘n mens gedrewe selfgerigte inrigting waarin geen kind, vrou of man meer in kan oorleef nie.
Wat het dan van LIEFDE geword? Nou vra iemand my: Wat is liefde?
Die bron van liefde is volgens die skrif niks anders as God nie. Aan sy voete leer ons hoe om as Christene nuut te leef. Sonder Christus haat ons mekaar en ons is haatlik! Met Christus het ons lief soos God ons lief het.
Efes 5 sê: Elkeen moet sy vrou lief hê soos hy homself liefhet, of eerder mans moet hul vrouens liefhê, soos Christus die kerk liefhet. Heilig en onberispelik.
Dit is nie verbasend dat baie mense skei nie. Baie mense het nie meer liefdesenergie nie. Ons is te moeg, oorstress, gespanne om nog te wil liefhê. Daar is soveel dinge wat ons van energie beroof, maar ook: Ons kom nie meer by God uit nie. Ons kom nie in kontak met sy liefde vir my, om daardie liefde aan te gee nie.
Wanneer jy weer bewus word van God se liefde vir jou, kry jy weer inspirasie om lief te hê!
DIE LIEFDFE VAN GOD IS DIE BRON VAN ENERGIE!
Die VERBINTENIS met God verseker kameraderie!
Hoe funksioneer die gemiddelde huwelik vandag? Daar is soveel ruimte binne elke huwelik vir werklike kameraderie. Die verhouding tussen man en vrou in die hemelse huwelik, het soveel potentiaal tot ‘n gesonde verhouding. Lees ‘n mens Efes 5 en kom terme voor soos ‘daarom sal ‘n man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees’, dan hoor ‘n mens mos die noue verbintenis wat tussen man en vrou behoort te bestaan. ‘n Noue verbintenis wat juis deur die liefde gevul word, met lojaliteit, respek en kameraderie. Dan hoor ‘n mens met opgewondenheid dat God nie dit so beskik het, dat die mens alleen moet wees nie, maar dat hy sy eie hulp/vriend/kameraad moet hê.
Die liefde word onuitblusbaar as hierdie verbintenis met God in ‘n verhouding met mekaar saam beleef word. God bepaal die kwaliteit van die verbintenis. Dit lei tot ‘n diepgegronde kameraderie met mekaar.
Dit is ‘n uitdaging om weer hierdie kameraderie in ons huwelike terug te vind. Om met God in ‘n verbintenis te leef, gee aan die huwelik ‘n nuwe dimensie.
Here, U het my maatjie vir my gegee en ek het haar/hom nodig!
God se TROU skep die ruimte vir vertroue!
Efes 5:23 verklaar: Christus is die hoof van die kerk. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.
Dus, Jesus Christus moedig dy dissipels voor sy hemelvaart aan om in God en ook in Hom te glo. Die kerk se verhouding tot Christus is die van absolute vertroue. Geloof en vertroue in God, is feitlik die hoeksteen van ons geloof. Ons glo dat God aan ons as sy kerk getrou is, daarom vertrou ons Hom. Ons kan Hom volg, waar Hy ons lei. Ons gee ons lewe oor aan Hom en is aan Hom onderdanig, wetende, Hy weet die beste en het die beste vir my in gedagte.
‘n Mens wat in die huwelik nie dieselfde sekerheid het nie, sal nooit onderdanig wees nie en sal nooit vertrou nie. Mans /Vroue wat hulleself en hulle eie belang voortdurend hoër ag as hul lewensmaats sin, verdien nie vertroue nie.
Om die liefdesvlam en liefdes energie weer in jou huwelik te laat hoog vlam, moet jy dalk juis weer gaan kyk na wat jou gesindheid is teenoor jou lewensmaat. Dit kan dalk juis wees dat :
• Hy/sy jou nie meer emosioneel vertrou nie, want jy ondersteun haar nie meer nie.
• Hy/sy jou nie meer finansieel vertrou nie, want jy verkwis jou geld doelloos en twyfel aan die toekoms wat jy van praat. Jy is dan voortdurend in die skuld. Hoe moet sy jou glo?
• Hy/sy jou nie meer seksueel vertrou nie, want jy konsentreer net op jou eie behoeftes.
• Hy/sy jou nie meer geestelik vertrou nie, want jy het nie meer insig nie en neem nie die leiding nie.
Baie huwelike het, onbewustelik, op hierdie vlak probleme. ‘n Man het nie altyd hiervoor begrip nie. Ons dink nooit hieraan nie. Daarom praat vroue baie keer negatief oor hul lewensmaats. En dit lê op hierdie vlak.
Leer uit wat Jesus in jou en vir jou doen. As jy Hom vertrou, verdien en beleef dan weer jou maat se vertroue. As jy Hom vertrou, vertrou dan weer die Here met jou maat.
God se DEERNIS energeer die romantiese!
In die Bybel, is daar dikwels romantiese liefdesbriefies wat ons op die verhouding tussen God en sy kerk kan toepas. Die Here God versorg sy bruid, die kerk met liefde en deernis.
Lees ‘n mens die boek hooglied en Spreuke en ander gedeeltes, dan is talle verhale in die Bybel so romanties. So vol deernis en vol liefde. Want die romantiek is deel van ‘n man en vrou se wese. Waar kan ‘n mens mooier en romantiese liefdestaal vind as juis in die boek HOOGLIED. So teer, so mooi, so rein, so waar!
Iemand het eendag gesê: Wie ‘n liefdevolle lewensmaat het, dra die hemel in sy/haar hoed.
Kom ons belei dit ook ‘n slag: Here, ons is selfsugtig onkundig. Here ons is dom met die romantiek. Here, help ons om, in ons huwelike, met deernis, romanties te leef.
Keith Miller verklaar: Jy het jou vingers liggies oor my siel gestreel en waar jy krake gevoel het, het jy saggies jou liefde daarin laat drup!
Ons verloor êrens tussen doeke en swangerskap, tussen werksdruk en moegheid, tussen kommer en laste, die vermoë om met deernis romanties te wees.
In Pred 9:7-9 staan daar: Kom ons eet dan ons brood met vreugde, en drink ons wyn met ’n vrolike hart. Kom ons geniet die lewe met die mens wat ons liefhet, al die dae van ons nietige lewe wat Hy ons gegee het onder die son.
Die INTIMITEIT met God beinvloed die seksuele!
God het die vermoë om meer vir ons te beteken as wat ons dink. God is in totaliteit jou God en Hy kan jou bevry van al die ‘hang-ups’ en ‘issues’ in jou lewe. Wanneer ons met Hom ‘n openlike en eerlike verhouding het, kan God ons bevry van ons geestelike, emosionele en fisiese letsels wat ons dalk opgedoen het. Wanneer ons intiem met God leef en ons Hom toelaat om juis dit te doen, kan God ons help om ook met ons lewensmaats intiem emosioneel, intiem psigies en intiem fisies te leef.
God, die Skepper van die mens, wat ons liggaamlik so aanmekaar gesit het, weet hoe belangrik die seksuele intimiteit tussen man en vrou is. Al die dinge wat ons nou vooraf gehoor het, speel as pakket saam om juis die intimiteit tussen lewensmaats so te verhoog, dat seksuele omgang ‘n onbeskryflike aanvulling van mekaar en vervulling van ‘n mens se hele wese is.
En God het agter die toe kamerdeur, alles daarmee te make. Daarom geskied die seksuele omgang net binne die intieme en permanente verhouding van een man met een vrou. Dit is tog al waar hierdie intimiteit werklik ervaar kan word.
Om die liefdesvlam van die hemelse huwelik onuitblusbaar te maak, leef intiem met God en met jou lewensmaat!
God se HART bepaal ons gesindhede!
Waar leer jy jou ambag? Waar leer ons om lief te hê? Waar leer ons om te vergewe? Waar leer ons geduld en deernis? Waar leer ons om nederig te wees en om ander horë te ag as onsself? Waar leer ons om ander onvoorwaardelik te aanvaar?
Dit is dikwels skandelik om te sien hoe hierdie dinge in Hemelse/Christen huwelike toe gepas word. Dit is alles behalwe Godverheerlikend. Dit is dikwels groot selfsug en vernietiging van mekaar. Die duiwel lag en seëvier in talle huwelike!
Waarom het ons dan ‘n Vader? Waarom dra ons dan sy Naam as Hy nie agter die deur van my adres mag inkom nie?
Kom bely ‘n slag jou aandeel aan jou huweliksverbrokkeling! Jou hart is soos klip! Jou hart is nie ‘n hart van vlees nie. Jy laat dikwels die Gees glad nie toe nie!
God se hart moet jou hart se gesindheid bepaal. Dan sal jy die vlam van die liefde weer beleef.
God se TEENWOORDIGHEID bepaal ons volhoubaarheid!
Jesus kan dinge in ‘n huwelik verander. Wanneer die liefde en die deernis van Jesus Christus die skerpkante in ons verhoudinge stomp maak, kan ons gesindhede en ons benaderinge van mekaar verander en vernuwe. Die hele agtergrond van Efesiërs is juis die nuwe mens wat teen die ou mens afgespeel word. Die verandering wat die Heilige Gees in ons lewe meebring, is die verandering wat ‘n huwelik kan ondergaan wanneer die Gees oor ons kom.
Daarom, wanneer God TENWOORDIG word, en gedien en aanbid word, maak Hy ons huwelik volhoubaar. God gee kraag en liefde, juis wanneer dit kortkom of wanneer dit nie meer bestaan nie.
Bron: http://www.ngheuwelkruin.org.za/preke/AMDieOnblusbareLiefdesenergie.htm