Jy is gebore vir die onmoontlike!

Jesus se wandel op aarde:
Joh 1:14:
“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”

Tydens Jesus se tyd op die aarde was Hy 100% God maar het Hy gekies om al Sy Goddelike kragte en vermoëns neer te lê om volle mens te word. Dus het Jesus geen bonatuurlike vermoëns gehad nie, Hy het dit neergelê om sodoende met die selfde beperkings te lewe as wat die mens beleef nadat hul verlos is. Jesus sê in Joh 5:19: “Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so.

Jesus is die perfekte voorbeeld vir elkeen van ons wat die uitnodiging sal aanvaar om die onmoontlike in Sy Naam te doen. Hy het wonderwerke, tekens en die onmoontlike as ‘n gewone man in die regte verhouding met God gedoen. Dan verklaar Hy in Joh 14:12-13: “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.
As Jesus hierdie wonders gedoen het omdat Hy God was sou dit onmoontlik vir ons gewees het om dieselfde te doen as Hy. Vêrder sou dit onredelik van Jesus wees om dit ook van ons te verwag. Maar as Jesus dit as gewone mens gedoen het, is ek verantwoordelik om Sy leefstyl na te volg.

Heb 4:15 verklaar: “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.” As Jesus dan Sy Goddelike kragte behou het sou Hy nie werklik met ons versoekings, moeilikhede, probleme en ongeloof kan medelye hê nie maar omdat Hy alles ervaar en deurgemaak het as normale mens kan Hy werklik hierdie medelye hê met ons. Jesus weet hoe dit voel om verwerp te word, iemand naby aan jou te verloor, versoekings te beleef en selfs om afhanklik van God te gewees het om die onmoontlike deur Hom doen.
Die verskil van Jesus se menswees met ons sin is dat Hy nooit gesondig het nie en dat Hy totaal en al afhanklik was van die krag van die Heilige Gees wat deur Hom gewerk het.
Wat van jou?
En 1Joh 2:6: sê: “Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.”
As ons werklik in Christus is moet ons lewe soos Hy gelewe het. Hoe het Jesus gelewe? Hy het die mense om Hom innig lief gehad en omgegee vir hulle, Hy het siekes gesond gemaak, Hy het die behoeftes en situasies van mense met bonatuurlik insig hanteer, Hy het kragtig in die lewens van ongereddes gespreek, Hy het die behoeftes van mense bevredig deur hul na die Koninkryk van God te lei. Jesus gee ons die opdrag om ook soos Hy te lewe. As Hy dan van ons verwag om die selfde dinge as Hy te doen hier op aarde sal Hy ons ook oprig en bekwaam maak om soos Hy te lewe en te doen wat Hy gedoen het. En omdat Jesus as mens wonderwerke gedoen het uit God se krag, bemoedig Hy ons ook aan om dieselfde te doen, om alles te beryp wat die Vader deur ons wil doen, om gehoorsaamheid en geloof in God toe te pas, net soos Hy het.
Die rede hoekom God jou nie saam met Hom geneem het toe jy wedergebore is nie is omdat jy die goddelike opdrag het om die onmoontlike te betree. Bill Johnson argumenteer dat die realiteit van die Christelike lewe moet gemeet word aan die impak van die onmoontlike. Hy verklaar dat ons as Christene dit hierdie wêreld verskuldig is om God se krag hier op aarde bekend te maak. Ek stem saam met hom, ons wêreld is honger en dors na iets groter as hulself, hul verlang na God en Sy almagtigheid, hal smag daarna om die God se grootheid te sien en te beleef sodat hul kan glo.

Soveel meer as ons uit God se krag lewe:
In Mar 16:17 staan daar: “Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”
In hierdie wêreld is ons geleer om deur ons eie krag deur moeilike situasies en uitdagings te druk. Maar werke wat nie gelei word deur die Heilige Gees nie loop uit op sweet, frustrasie en mislukking. Probeer ons met al ons energie om die wêreld te oortuig van ‘n God wat groter is as enige uitdaging of moeilikheid? Probeer ons verniet om God se liefde aan mense te openbaar?

Jesus het ‘n wonderlike model om verlorenes te bereik, geïllustreer. Hy het nie redenasies gebruik om mense te oortuig nie maar het deur bonatuurlike openbarings en krag (die Heilige Gees) mense tot die waarheid gelei, bv. die Samaritaanse vrou by die put waardeer sy en die hele dorp tot bekering gekom het.
Is ons so ‘sterk en kragtevol’ dat ons nie vir God kans gee om deur ons te werk nie? Soos Paulis in 1Kor2:3-5 moet ons ook besef dat ons nie deur ons eie krag en oortuiging mense kan bekeer nie maar alleenlik deur die krag van God. Ons moet ook plek maak vir God se Gees om God se krag en natuur deur ons bekend te maak. Hoekom wil ons net doen wat alle mense van alle gelowe kan doen?
Die Gees van die opgestane Jesus Christus lewe in jou en Hy wil deur jou Sy krag hier op aarde bekend maak! Glo jy? Kom daar wondertekens in jou lewe voor?

Wat verhoed jou om die onmoontlike te betree?
Hoe kan ons lewe soos Jesus gelewe het en doen wat Hy hier op aarde gedoen het?
Joh 14:14: “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”
· Glo dat Jesus vir jou aan die kruis betaal het vir jou sondes en aanneem as jou Verlosser: jy moet alleenlik op die werk van Jesus Cjristus aan die kruis staat maak vir jou verlossing. Glo dat omdat jy op Sy werke vertrou en in verhouding met Hom is jy Hemel toe gaan. Dit maak ons navolgelinge van Jesus en dus ook Sy dissipels wat moet lewe soos Hy gelewe het (Joh 3:16).
· Hart vir verlorenes ontwikkel: as ons oor verlore mense voel soos wat Jesus en God voel sal ons alles moontlik wil doen om hul die waarheid te wys. God doen wonderwerke om mense te oortuig van die Evangelie, Sy krag en liefde. Ons moet die instrument wees waardeer God dit kan openbaar aan ‘n verlore wêreld.
· Geloof in wat God kan, wil en sal doen: ons geloof moet wees in God en dit wat Hy belowe in Sy Woord. Ons moet nie twyfel in dit wat God kan doen nie, ons moet ook nie dink God kan maar wil nie. Ons moet oortuig wees van God se karakter en wie Hy is.
· Afhanklikheid van God: ons moet besef ons kan nie sonder God enige iets doen nie. Ons moet ‘n afhanklik houding teenoor God kweek om deur ons te werk. Ons moet toelaat dat die Heilige Gees ons lei in elke situasie en dus moet ons in Jesus bly om vrugte te dra (Joh 15:5).
· Lewe om eer aan God te bring: ons moet nie lewe om self raak gesien te word nie maar dat mense God se Gees in ons sal raak sien en sodat daar eer aan Sy Naam gebring kan word. God doen wonderwerke om eer aan Sy eie naam te bring en om Sy liefde aan die mensdom te wys, Hy deel nie Sy glorie met enige mens nie. Ons kan maar daarvan vergeet om die onmoontlike te leef as ons dit vir verkeerde redes wil doen. Daarom moet ons altyd met nederige harte God soek.

Skrif:
Hand 1:8: “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.”