Wat vrees jy?

Joh 14:1: Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.
Miskien sit jy vandag hier en daar is iets waaroor jy werklik baie ontsteld is. Dinge en gebeure in jou lewe hou jou vas in vrees en bewing. Jy voel benoud oor dit wat voorlê. En jou verlede los jou lam met vrees.
Elkeen van ons word gekonfronteer deur vrees. Soos ons hier sit lewe ons in ‘n wêreld wat rondom vrees gebou word. Kyk hoe lyk dit waar ons woon – heinings word hoër, diefwering al hoe dikker en versekering al hoe meer. Ons kinders word blootgestel aan dinge wat hulle nog glad nie kan verwerk nie. Om nie eers te praat van wat se uit werking dit op die emosionele vlak het nie – die hoeveelheid depressie in die land is ‘n goeie aanduiding van hoe ons die dinge akkommodeer.
Vrees kom nie van God af nie. 2Tim 1:7 sê: Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. God sê in die Bybel honderde kere vir ons om nie bang te wees nie want Hy is by ons en sal ons help. Sy wil vir ons is nie om in vrees te lewe nie maar in vrede terwyl ons die lewe in oorvloed geniet.
Vrees ontstaan deur:
·Aangeleerde proses: indien mens nie situasies in verlede reg opsom word dit ‘n verwysings raamwerk vir ‘n mens wat vrese versterk.
·Hoe mens sekere situasies interpreteer: verskillende persone reageer anders tot dieselfde situasie. Jou persepsie oor ‘n situasie sal bepaal of jy dit sal vrees of nie.
·Gedagtes wat satan plaas om jou te bind. Fear: False Evidence Appearing Real:
Nie te weet wie of wat om te vertrou.
Onsekerheid oor wat gaan gebeur.
Nie te weet of jy na omgesien gaan word nie.
Nie te weet of jy veilig gaan wees nie.

Wat is vrees:
Volgens die Bybel is daar twee tipes vrees. Die eerste is nadelig en word deur die Bybel ontmoedig en dat dit oorkom moet word.

Hierdie vrees is ‘n gevoel wat die mens ervaar wanneer hul beleef hul is in gevaar. Hierdie gevaar dui nie slegs op lewensgevaar nie maar enige situasie wat ‘n bedreiging in hou. Byvoorbeeld vrees vir mislukking, armoede, alleen wees, mense, verwerping, kinders se lewens, gewig optel ens. Dit is om bang te wees, angs te ervaar en bekommerd te wees oor dinge. Hierdie vrees kom nie van God nie maar word gekweek deur satan. Dit is die teenoorgestelde as geloof en vertroue in God. Vrees is die kern van ongeloof. Daar waar daar vrees is, kan geloof nie funksioneer nie. Dus kan die krag van God nie in beweging gebring word nie. Vrees is geloof in dit wat jy vrees.
Die tweede tipe vrees is vrees vir die Here. Dit is om met ontsag vir God se karakter en Sy Woord oorweldig te wees. Dit is ‘n toestand van diepe eerbied wat maak dat ons voor God sidder omdat Hy regverdig oordeel. God wil nie hê dat ons bang moet wees vir Hom nie maar dit is om respek vir God se outoriteit te hê, Sy gebooie te gehoorsaam en alles wat sleg is te haat. Dit is om ‘n onuitgesproke taal van geloof, ‘n neerbuiging in onderdanigheid voor die Een wat onbeskryflik groter en meer majestueus as ons self is. Dit is ook toepaslike respek vir God se woede en toorn. Dit is om te weet dat God sonde haat, dat Hy eendag terug kom om te oordeel en om dat uit liefde vir Hom te doen wat reg is.

Die vrees vir die Here is die begin van wysheid (Ps 111:10). In die Bybel sien ons dat ‘n vrees vir die Here lewe (Sp19:23), sekuriteit vir ons kinders (Sp14:26), beskerming teen die slegte, vertroue en bevrediging vir ons sal gee (Sp 14:27).

Wat doen vrees:
Vrees is die grootste blokkasie van sukses in jou lewe:
die grootste struikelblok in ons lewe is nie omstandighede of mense nie, maar onsself wat vrees akkommodeer.
Vrees verlam jou potensiaal: dit laat jou geleenthede mis en dit vat ook die hoop uit jou lewe weg. Vrees wil hê dat jy na jouself kyk en jou eie potensiaal en vermoëns. Dit blokkeer dan die Woord en Beloftes in jou lewe. Dit maak dat jy nie alles word en beleef (uit mis) wat God vir jou beplan – lewe nie in oorvloed nie.
Vrees is ‘n groot oorsaak van siekte:
Gaan kyk bietjie in mediese tydskrifte hoeveel siekte daar is agv stress, spanning en vrees. Statistieke bewys dat min of meer 75% van alle siektes wat in doktor spreekkamers op eindig ontstaan agv spanning.
Vrees verhoed dat jy opreg is in jou verhoudings met mense: die samelewing het ons al so gekondisioneer dat mense nie hulleself kan wees nie – uit vrees van wat gaan mense van my sê en dink.
Vrees het die vermoë om ‘n Goddelike oomblik te neutraliseer: God is hier om in jou behoeftes te voorsien en Hy is hier om jou te beskerm, om jou te genees; om jou wysheid te gee en jou te help, maar die oomblik as jy vrees, neutraliseer dit die oplossing wat die Here vir jou wil gee.
Veroorsaak dat mens sondig: die Bybel is vol voorbeelde waar mense bang geword het en gesondig het. Dit is wanneer ons God se plan (opdragte) vir ons eie plan B verruil. Bv. Saul en hoe hy dinge in sy eie hande geneem het.
Steel jou vreugde en vrede: mens kan nie vreugde en spanning ter selfde tyd ervaar nie. Vrees verhoed dat mens rus, afskakel en vrede ervaar.
Steel jou tyd: bekommernisse en om te vrees hou mens besig maar dit verbeter niks aan ‘n saak nie. dit is soos ‘n wiegstoel, dit hou jou besig maar vat jou nêrens heen nie.

Teenmiddels vir vrees:
Bely jou vrese aan God: maak jou hart oop vir God en sê vir Hom die dinge waarvoor jy bang is. Vra God om jou te vergewe omdat jy vrees kies en nie geloof in Hom kies nie. God belowe dat wanneer ons bely Hy ons sal reinig en dus los maak, vry maak, skoon maak daarvan. 1Joh 1:9: Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
Nader tot God en bid tot Hom: soek God en vra God om jou te help dan sal Hy vir jou vrede gee wat wag hou oor jou gedagtes en hart (Fil 4:6). Hy sal jou gebed verhoor (Ps 86:7).
Verbreek die binding van vrees oor jou lewe: om in die Naam van Jesus Christus vrees oor jou lewe te breek (Mat 18:18).
Weerstaan vrees: as jy satan en sy vrees aanvalle weerstaan moet hy van jou weg vlug (Jak 4:7). Al moet jy dit ‘n 100 keer ‘n dag doen, doen dit oor en oor totdat hy moet opgee.
Vertroue en geloof in wie God is: vertroue beteken om sonder kommer te wees, om veilig te wees en om ‘n beskermer en toevlug te hê. Dit is om jou bekommernisse op God te gooi (cast your cares on God), soos ‘n visserman sy lyn in die water gooi weg van homself af, so moet jy dit wat jou pla ver weg van jouself af gooi. Dit doen jy deur ‘n besluit te maak om God te vertrou. Dit is nie ‘n gevoel nie maar ‘n besluit. Sê jou besluit dan hardop. Dit is ‘n verklaring van jou geloof. ‘n Besluit plus ‘n verklaring is gelyk aan bevryding. A.g.v. jou vertroue in God sal jy nie meer bang wees nie. Vertroue in God kan makliker verkry word wanneer jy werklik weet wie God is, dat Hy die beste vir jou wil hê en daartoe in staat is om jou in elke situasie te help en uitkoms te gee, as ons besef dat God sovereign in beheer is, sal ons nie meer vrees nie. Wanneer vrees jou manipuleer en vrees jou dryf, dan is dit ‘n mosie in wantroue in God se vermoë.
God se volmaakte liefde verdryf vrees: 1Joh 4:18: Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. Wanneer jy vrees, het jy nie God se volmaakte liefde op daardie oomblik binne in jou nie. Dan moet jy tot God nader en Hom vra om Sy volmaakte liefde in jou hart uit te sort.
Om die Bybel te ken en gedagtes in beheer te neem: vrees begin in jou gedagtes wat dan oorgesit word tot emosies en optredes. Wanneer jy die waarheid (Bybel) ken sal jy dadelik kan agterkom dat satan vrees gedagtes by jou probeer kweek. Dan moet jy die gedagtes weerstaan en vervang met die waarheid. Maw jy moet doelbewus aan die waarheid dink om sodoende die vrees te weerstaan.
Verklaar hardop in die Naam van Jesus die waarheid: daar is krag in die Naam van Jesus (Fil 2:10) en wanneer ons hardop die waarheid in die Naam van Jesus verklaar moet die leuen onderwerp word aan Jesus. Geloof ontstaan deur oor en oor die waarheid te hoor (Rom 10:17). Dit vernuwe jou gedagtes wat jou vrees optredes sal verander (Rom 12:2). Laastens is daar lewe en dood in die mag van die tong en jy sal die vrug pluk van wat jy sê bv. In die Naam van Jesus Christus is ek nie bang nie.
Heilige Gees te vra en toe te laat om jou te vul met krag, liefde en selfbeheersing: Krag oorkom vrees omdat wanneer jy weet dat jy die krag het om iets te verander, hoef jy nie bang te wees vir hoe daardie ding is nie. Liefde sien bg. oor God se volmaakte liefde. Selfbeheersing (sound mind) oorkom vrees omdat vrees altyd iets is wat jy dink wat die teenoorgestelde is as die Waarheid. Wanneer jy die waarheid dink sal vrees jou lewe moet verlaat.
Gesonde vrees vir God: ‘n heilige vrees vir God verdryf alle ander vorme van vrees. Daarom moet jy ophou om jouself aan vrese te onderwerp en jouself eerder aan God onderwerp. Onderwerping beteken om die teuels te los en dit in die hande van iemand met ‘n hoër gesag oor te gee. Dit beteken om onder God se gesag in te kom, om die alomteenwoordigheid en almag van ons Hemelse Vader te erken. Dus as ons onsself aan God onderwerp, erken ons God as die enigste regmatige objek van vrees. Hierdie eerste stap in die bevryding van vrees is vir baie mense die skrikwekkendste.

Doen waarvoor jy bang is bang: as jou vrees dan nog steeds nie weg is nie, doen dit waarvoor jy bang is terwyl jy nog bang is. Onthou satan maak ons bang deur verkeerde persepsies vir ons te gee oor sekere situasies. Eers wanneer ons onsself dwing om iets te doen waarvoor ons bang is besef ons dat dit glad nie so erg was nie en wen ons self vertroue met elke probeerslag.

Beantwoord die volgende vra opreg:

1. Voel jy asof jy niemand het om te vertrou met sekere aspekte in jou lewe? Wat is dit?

2. Voel jy sekere dinge in jou lewe is buite beheer? Wat?

3. Is jy onsekerheid oor wat gaan gebeur tov sekere aspekte in jou lewe? Wat se onsekerhede het jy?

4. Voel jy soms of jy nie na omgesien gaan word nie? Oor wat?

5. Is jy onseker of jy veilig is/of gaan wees in die toekoms?

6. Wat bekommer jou die meeste?

7. Waarvoor is jy bang?

8. Waarmee sukkel jy om God te vertrou?

9. Wat se gedagtes hou jou konstant besig? Waaroor dink jy gedurig?

10. Oorreageer jy soms in sekere situasies en jy weet nie werklik hoekom nie? Wanneer?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s