WOORDE, EMOSIES & GEDAGTES (WEG)

Daar is twee planne vir ons lewe (Joh 10:10). God het ‘n goeie plan met elkeen van ons se lewe en ons moet in ooreenstemming met Hom kom aangaande die plan.

Daar is drie dinge wat ons as gelowiges in ons lewe kan doen om die lewe wat God vir ons beplan, te leef. Ek noem dit ‘die weg’ (Woorde, Emosies en Gedagtes). Nie net om dié weg te volg maar ook weg met hartseer, weg met mismoedigheid, weg met depressie, weg met woede, weg met sonde of enige ander optrede of gevoel wat jou terug hou. Want Christus het alreeds al dié dinge vir ons gedoen en ons moet net in lyn kom met dit.

Wat ons dink (gedagtes) beïnvloed hoe ons voel en wat ons sê. Ons gevoelens (emosies) beïnvloed wat ons doen (optrede). As mens iets oor en oor doen word dit jou karakter en jou karakter bepaal jou toekoms/ bestemming (Rom 12:2).

Gedagtes:
Nie elke gedagte wat by ons opkom is die waarheid nie. Satan het ook ‘n plan vir ons lewe en dit is nie ‘n goeie plan nie (Joh 10:10). Hy plaas allerhande leuens in ons gedagtes met die hoop dat ons dit sal glo en daardeur in ooreenstemming met sy plan sal kom.

In 2Kor 10:3-5 staan daar dat hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings te vernietig, terwyl ons planne verbreek en elke aanval wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,

Ons moet dus elke gedagte wat by ons opkom meet aan die waarheid van God en as dit nie ooreenstem met die waarheid nie moet ons dit weerstaan en deur die waarheid vervang. Ons vind die waarheid in die Bybel. Byvoorbeeld, as jy dink dat daar geen doel is met jou lewe moet jy dit weerstaan en met die waarheid vervang dat God jou al in jou moederskoot geroep het en ‘n doel met jou lewe het (Jes 49:1).

As jy ‘n nuwe lewe wil leef moet jy op ‘n nuwe wyse begin dink (Rom 12:2). As ons vyand (satan) ons gedagtes kan beheer kan hy ons bestemming hier op aarde beheer. Ons KAN kies waaroor ons wil dink en waaroor ons nie wil dink nie! Ons moet doelbewus ons gedagtes besig hou met die waarheid sodat dit nie leeg is vir satan om leuens daarin te plaas nie.

Kom in ooreenstemming met God. Die weg om nuut te dink is deur die Bybel te bestudeer en om daardie waarhede te oordink.

Emosies:
Nie alles wat ons voel is die waarheid nie. Byvoorbeeld, ek mag voel dat almal in die kamer van my skinder en dan misluk teenoor almal optree. Dit is egter glad nie die geval nie en my optrede veroorsaak dus dat ek goeie verhoudings met die mense misloop.

Ons moet nie toelaat dat ons emosies ons beheer nie maar ons moet ons emosies beheer. As ons toelaat dat ons emosies ons beheer sal ons nooit die persoon wees wat God bedoel het ons moet wees nie en sal ons nooit die bestemmings bereik wat God vir ons beplan nie.

Ons moet ook elke emosie opweeg teen die waarheid en as dit nie in lyn met God se Woord is nie na God neem en dit met Hom deel. In Fil 4:6-7 staan daar dat ons oor niks besorg moet wees nie, maar ons begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend maak by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte (gedagtes en emosies) en gedagtes (persepsies) die wag hou in Christus Jesus.

Net soos dit belangrik is dat ons nie volgens ons emosies moet optree nie is dit net so belangrik dat ons nie ons emosies moet onderdruk nie maar met God deel sodat Hy vir ons die vrede kan gee om ons emosies stil te maak en reg op te tree. God het emosies vir ons gegee vir ‘n rede, om te waarsku iets is nie reg nie (soos die olie liggie van jou kar). Om dit te ignoreer of te onderdruk vat nie die emosie weg nie. Maar as ons dit met God deel gee Hy vir ons vrede.

God wil hê dat ons met wysheid moet optree. Wysheid sê wag totdat die emosies afgekoel het en kyk dan of dit die regte ding is om te doen. Die Bybel sê in Kol 3:15 dat die vrede van God in ons harte die deurslag moet gee. As ons dus nie vrede het oor ‘n saak moet ons nie optree totdat ons vrede het nie. Wysheid sê wag, emosies sê maak gou!

Ons KAN ook ons emosies beheer. Dink daaraan as jy baie kwaad is vir jou man en julle is besig met ‘n woordewisseling, dan hoor jy die dominee by die deur, jy tree nie lelik op teenoor die dominee nie maar groet vriendelik. Net so kan ons ook kies hoe ons wil optree ten spyte van ons emosies. Ons kan nie volgens die Gees wandel en volgens ons emosies op tree nie.

Woorde:
Volgens Sp 18:21 is dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.

Ons woorde het nagevolge (Gal 6:7). As ons dood oor ons lewens uitspreek sal ons dood in ons lewens ervaar, as ons negatiewe dinge oor ons lewe uitspreek sal ons ‘n negatiewe lewe lei maar as ons die waarheid oor ons lewens uitspreek sal ons die lewe leef wat Christus gesterf het om vir ons te gee.

Ons moet besef dat daar krag in ons woorde is. Baie keer spreek ons wat ons voel op ‘n sekere oomblik oor ons lewens uit soos: “ek voel soos ‘n mislukking” maar wat ons voel is nie noodwendig altyd die waarheid nie. Ons moet die waarheid wat ons in die Bybel vind oor ons lewens uitspreek.

Ons gedagtes word ons woorde en dit is hoekom satan gedagtes in ons koppe sit want hy weet as ons dit as die waarheid neem, ons dit een of ander tyd oor ons self sal uitspreek en dit sal hom die oop deur in ons lewens gee om sy plan uit te voer.

Die grootste versoeking in die lewe is om te praat oor wat ons voel en sien maar God wil hê ons moet praat oor die dinge wat Sy Woord sê oor ons en Hom. Dit beteken nie ons moet ons omstandighede ignoreer nie maar ons kan ons probleme oorwin en hoe jy praat tydens jou krisis het baie daarmee te doen. Byvoordbeeld, eerder om te kla oor die ekonomie kan mens erken dat dinge knyp gaan maar dat God nog altyd vir jou sorg en dat jy volle vetroue in God het om aan elkeen van jou behoeftes ryklik te voorsien (Mat 6:25-33 / Fil 4:19).

Ons moet elke dag God se Woord doelbewus oor ons lewens uitspreek as deel van ons daaglikse geestelike dissipline. Wat ons hoor beïnvloed ons geloof (Rom 10:17). Hoe meer ons iets hoor, hoe meer glo ons dit. As ons elke dag Woord oor ons lewe uitspreek sal dit ook ons gedagtes vernuwe sodat ons anders kan begin optree. Die Woord van God is die swaard teen satan en die magtigste wapen wat ons kan gebruik.

Raak bewus van wat jy sê, begin in lyn met God se Woord praat en Sy waarhede oor jou lewe uitspreek. Dit sal jou lewe in lyn bring met God se plan vir jou lewe.

Dit is dus baie belangrik dat ons God se wil en plan moet ken en daarvolgens dink, praat en ons emosies in lyn daarmee bring.