ONVOORWAARDELIKE LIEFDE

Wat is dit?
Onvoorwaardelike liefde is die liefde wat gemaak het dat God Sy Seun vir ons aan die kruis laat sterf het vir ons sondes. Dink gou hieraan: op hierdie huidige oomblik is daar niks wat jy kan doen wat kan maak dat God jou liewer sal hê nie en niks lelik wat jy kan doen wat kan maak dat Hy jou minder lief sal hê nie. Onvoorwaardelike liefde is die liefde wat God vir ons het en dit beteken dat Hy ons lief het net soos ons is, met al ons foute. Onvoorwaardelike liefde gaan eintlik oor God se karakter, Hy gee hierdie liefde vir ons oor wie Hy is en nie oor wie ons is of wat ons doen nie.

God verwag dat ons ook hierdie onvoorwaardelike liefde moet uitleef teenoor ons medemens en veral in ons huwelik teenoor ons eggenoot.

Hoe lyk onvoorwaardelike liefde in my huwelik?
Onvoorwaardelike liefde is ‘n keuse en nie ‘n gevoel nie. Dit is ‘n besluit wat jy maak om iemand lief te hê ten spyte van van wie of wat hul is, hoe hul optree teenoor ons of wat hul doen (of nie doen nie). Die fokus van onvoorwaardelike liefde is om die behoeftes van die ander persoon te bevredig. Dit is die grootste geskenk wat jy jou maat kan gee. Dit is nie gebasseer op hul optrede nie maar op jou begeerte om hom/haar lief te hê soos Christus jou lief het. Met ander woorde sonder enige voorwaardes.

Hoekom onvoorwaardelike lief hê?
God verwag onvoorwaardelike liefde van ons. Sy wette/opdragte is nie beperkend nie maar beskermend. Dit is soos ‘n pa wat vir sy dogter sê om 23:00 by die huis te wees na die fliek. Hy sê dit nie om haar te beperk nie maar te beskerm. Net so sê God vir ons om sekere dinge te doen en ander nie omdat Hy ons ook wil beskerm en Hy weet wat se voordeel daarin is vir ons.

Onvoorwaardelike liefde gee heel eerste vir mense ‘n veilige plek om te kan verander. In plaas daarvan om druk op iemand te plaas om te verander, sê onvoorwaardelike liefde “ek het jou lief” of jy nou verander of nie. Wanneer mense dié veiligheid beleef kan en sal verandering outomaties geskied. Maar wanneer iemand forseer word om te verander kan so ‘n persoon opstandig raak en rebelleer teen enige verandering. Die persoon kan ook vrees ervaar wat verandering bemoeilik.

Onvoorwaardelike liefde gee aanvaarding vir mekaar. Iets wat ons so nodig het in die wêreld. ‘n Plek waar mens mens self kan ontdek en sodoende ook kan groei en ontwikkel tot dit wat God wil hê ons moet wees.

Onvoorwaardelike liefde kan ons huwelike red. Dit vernietig die 50/50 persent beginsel van die wêreld en laat ons toe om ons alles, ons beste, ons 100% vir ons maats te gee tot eer van God.

Hoe kry ek dit reg?
Maak ‘n keuse en toevertrouing om jou eggenoot onvoorwaardelik lief te hê. Alles begin met ‘n keuse.

Dit is belangrik dat ons God se onvoorwaardelike liefde vir onsself ervaar en begryp. Daarom moet ons vir God vra om deur Sy Heilige Gees hierdie liefde aan ons te openbaar. Wanneer ons die aanvaarding en liefde beleef gaan dit vir ons baie moeilk wees om dit nie ook met ander te deel nie.

Ons moet God vra om ons te help om vir ander lief te wees soos Hy ons lief het. Die Woord sê dat wanneer ons volgens God se wil iets vra sal God dit vir ons gee. Dit is Sy wil dat ons vir ander onvoorwaardelik lief moet wees! Dan moet ons God vra om ons te vervul met Sy Heilige Gees sodat ons Sy wil sal volg en nie ons eie sondige natuur nie.

Dit is ook baie belangrik om tyd te spandeer in God se Woord en Sy teenwoordigheid. Hoe meer tyd ons met God spandeer hoe meer sien ons wie Hy werklik is en Hoe meer kan ons verander word om aan Sy Seun gelykvormig te word. Hoe meer ons die Bybel lees hoe meer sal ons geloof kry en hoe meer sal die mense in ons lewe onvoorwaardelik lief kan hê.

Ek moedig jou aan om jou beste lewe nou te leef en jou eggenoot uit sy/haar sokkies uit lief te hê. Onthou niemand is perfek en as ons gaan wag dat mense foutloos moet wees voordat ons lief gaan wees vir hulle, sal ons nooit niemand lief hê nie.

Skrif om oor na te dink:
2Kor 3:18 Ons almal weerspieel die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesigte af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat uit ons uitstraal neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.
2Kor 5:17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe mens; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
Rom 6:11 So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.
Rom 10:17 Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.
Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gedagtes, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Eph 1:17 dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee,
Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

2 thoughts on “ONVOORWAARDELIKE LIEFDE

  1. Dup October 25, 2015 / 3:19 am

    Beste Jonanda,
    Dankie vir die treffende boodskappe wat jy van die Heilige Gees ontvang, en aan ons oorgedra deur jou netwerk- kommunikasie.
    Ek het ‘n baie spesifieke saak waaroor ek jou aanvullende mening nodig het. Dit gaan oor die “onvoorwaardelike liefde” wat jy kwalifiseer as volg: “Onvoorwaardelike liefde is die liefde wat gemaak het dat God Sy Seun vir ons aan die kruis laat sterf het vir ons sondes”.
    Ek lei af uit jou verduideliking dat die “onvoorwaardelike” komponent van Sy liefde eers in werking tree nadat ek my sondige natuur besef en bely het, en glo dat Jesus al hierdie sondes van my op Hom geneem en daarvoor die skuld betaal deur Sy kruisdood, weens Sy geregtigheid wat vereis dat geen sondes ongestraf gelaat kan word nie.
    Indien dit waar is, kan ek aanvaar dat daar aanvanklik eers ‘n “voorwaarde” is ten opsigte van Sy liefde, naamlik: Besef eers my sondigheid, weet hoe ek daarvan verlos kan word, naamlik deur Jesus, en lewe ‘n lewe van gehoorsaamheid aan Hom agv my dankbaarheid. Eers dan tree Sy “onvoorwwardelike liefde” in werking waarna jy verwys, al struikel ek soms en veg gedurig teen die versoeking.
    Dus, daar is eers ‘n voorwaardelike liefde en dan volg die onvoorwaardelike liefde? Klink dit reg?

  2. wburger March 11, 2016 / 8:16 pm

    Hallo daar jammer ek antwoord nou eers. Eknwas bierjie af lyn. God het reeds sy Seun vi ons laat sterf toe ons sondaars was en dit is onvoorwaardelike liefde! Dit was, is en sal altyd onvoorwaardelik bly!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s