SLEGTE VRUGTE KOM VAN SLEGTE WORTELS

Almal van ons sukkel met gewoontes en optredes wat nie vir God en vir onsself aanvaarbaar is nie. Ons wil so graag ophou daarmee maar besef soms nie eers hoekom ons so optree nie.

Hoekom doen ons slegte dinge?
Hoekom het ons vernietigende optredes. Hoekom doen ons sonde? Hoekom tree ons op soos ons doen? Wat bepaal ons optrede? Lees hier:

Mar 7:21: “Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.”

Ons kan dus argumenteer dat ons slegte optredes ontstaan in ons hart. Verder:

Mat 12:33-35: “ Julle moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken. Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.”

Dus, as ons goeie dinge doen, is daar goeie dinge in ons hart maar die slegte dinge wat ons doen ontstaan as gevolg van die slegte dinge in ons hart. Maw elke slegte optrede, gewoonte of lewenswyse het ‘n slegte wortel in ons hart.

Kyk hoe waarsku Sp 4:23 ons: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”

Waarna verwys die hart hier?
Strong’s woordeboek beskryf die hart in hierdie vers as: “thoughts or feelings, the will and even the intellect; likewise for the centre of anything.”

Waar kom die dinge binne jou hart vandaan?
Ons as mens bestaan uit ‘n siel (gedagtes, wil en emosies), liggaam en ‘n gees (1 Tes 5:23). Wanneer ons tot bekering kom verduidelik die Bybel dat ons ‘n nuwe mens word (2 Kor 5:17) dat ons dood is vir ons sondige natuur (Rom 6:6) en lewendig vir God (Rom 6:11). Rom 12:2 verduidelik dan verder dat God ons wil verander deur die vernuwing van ons gedagtes. Dus in ons gees het ons nuut geword en een met Christus maar in ons siel (gedagtes, wil en emosies) moet ons vernuwe word, elke dag verander om meer en meer gelykvormig aan Jesus Christus te word (2 Kor 3:18). Twee baie belangrike bronne is:

1. Seer uit verlede: as ek seer gekry het soos byvoorbeeld verwerping en nog nie daarmee afgehandel het nie maw vergewe het en genesing ontvang het vir die verwerping sal die gebeure bepaal hoe ek optree, wat ek doen en wat my verwagtings in die lewe is. Seer in my lewe kan die volgende veroorsaak:

onvergewendsgesindheid, ongeloof, bitterheid ,depressie, wantroue, hopeloosheid, skuld gevoellens, vals beeld van wie ek is, vals beeld van wie God is, ens

2. Wat ek glo omtrent myself, God en die lewe: wat ek doen bepaal nie wie ek is nie MAAR wat ek van myself glo bepaal wat ek doen. Wat ons van onsself glo bepaal ons optrede. As ek glo ek is ‘n alkoholis dan tree ek op soos ‘n alkoholis…. voorbeeld tweeling van alkholisitiese ouers.

Wat ons dink bepaal wat ons voel, wat ons voel bepaal wat ons doen, wat ons doen bepaal ons karakter en ons karakter bepaal hoe ons lewe is m.a.w. hoe ons toekoms sal wees en wat ons sal doen en bereik in hierdie lewe.

DENKE -> EMOSIES -> OPTREDE -> KARAKTER -> TOEKOMS/LEWE

Hoe kan die dinge in my hart verander:
Deur ‘n verbintenis met Jesus Christus: Jesus het gekies om vir ons aan die kruis te sterf sodat ons gered kan word maar ook sodat ons in oorwinning kan lewe hier op aarde. deur Sy kruisdood het Hy soveel dinge vir ons bewerkstellig en een daarvan is om vry te wees van die seer van die verlede (Jes 52).

Innerlike genesing: God maak my seer hart gesond sodat ek uit ‘n gesonde hart kan lewe.

Vergewe: om mense wat my seer gemaak het vry te spreek sodat ek ook vergewe kan word en vry kan kom.

Leuens oor self, God en lewe te identifiseer en dit deur die waarheid te vervang: ons sal die waarheid ken en die waatheid sal ons vry maak (Joh 8:32). Die waarheid kom in die Bybel voor. Die leuens wat ons glo moet ons venietig en vervang met die waarheid in die Woord van God oor onsself, God en die lewe. Ons moet werklik weet wie ons is in Christus.

Gedagtes gevangenis te neem: elke gedagte wat in ons kop kom moet gesif word en gemeet word aan die waarheid van God (2 Kor 10:5). Nie alles wat ons dink is die waarheid. As ons oor leuens nadink dan sal ons dit begin glo en ons sal dan ook so lewe.

Emosies te identifiseer, te bely en God vir bevryding daarvoor te vra: ons moet nie ons emosies onderdruk nie. Erken dit aan God. Maar ons emosies is ook nie noodwendig die waarheid nie. Ons moet nie toelaat dat ons emosies ons beheer nie maar vir God vra om dit te verander sodat dit in lyn in met die waarheid. Byvoorbeeld: ek voel nie altyd asof God my lief het nie maar dit beteken nie dat dit die waarheid is nie. Ek moet die waarheid in die Bybel soek en my emosies in lyn daarmee bring.

Waarheid voordurend te bestudeer: God wil ons verander deur die vernuwing van ons gedagtes. Die enigste bron van waarheid wat ons kan vertrou is die Bybel. Ons moet daarin vernuwe word. Geloof kom deur te hoor en hoor deur die Woord van God (Rom 10:17).

Waarheid voordurend oor self en eie lewe te spreek: daar is krag in die woorde wat ons spreek. Daar lê lewe en dood in die mag van die tong (Sp 18:21) en ons moet kies om lewe oor onsself en ons omstandighede uit te spreek.

Voordurend te bid en God te vra vir vervulling met Sy Gees: sonder die krag van die Heilige Gees kan ons nie anders lewe nie. Ons moet Hom vra om ons te vul en dan kies om Geesvervuld te lewe.

Aanbidding en lof aan God: daar is vrymaking en genesing wanneer ons God aanbid (Ps 138:7). Die vyand kan ook nie lof aan God deurstaan en vlug dus wanneer ons aanbid.

Uitreik na medemens: wanneer ons uitreik na die mense om ons neem ons die aandag van ons eie probleme af en fokus op die probleme en behoeftes van ander. Dit opsig self is genesend. Dit is ook waaroor die Christelike geloof in God gaan (Jak 1:27).

Woord om oor na te dink:
1Tes 5:23 En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!
2Kor 3:18 Ons almal weerspieel die heerlikheid van die Here aanskou, want die sluier is van ons gesigte af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat uit ons uitstraal neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.
2Kor 5:17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe mens; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
2Kor 10:5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,
Rom 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.
Rom 6:11 So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.Rom 10:17 Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.
Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gedagtes, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.
Sp 18:21 Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.
Sp 23:7 Want soos hy in sy siel bereken, so is hy;
Jak 1:27 Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jouself vlekkeloos te bewaar van die wêreld.
Ps 69:31 Ek wil die Naam van God prys met ‘n lied en Hom groot maak met danksegging;